
Nie net kry die koper, mnr. G.W. (Gert) van der Linde, twee lammers met ‘n gesamentlike 100-dae-gewig van 87,2 kg nie, maar is die ooi dragtig – moontlik met ’n drieling.
Die ooi en haar lammers is vir R75 000 deur Van der Linde van die plaas Wheatlands, Mareetsane, gekoop. Die vorige rekord was R65 000.
Die verkoper, mnr. FJ (Francois) van Wyk van die plaas Gelegefontein, Burgersdorp, sê die ooi is besonders. Sy is in 2019 gebore en het al vyf lammers vir sy FJ-stoetery gelewer.
Van Wyk sê die ooi se pa se saad is direk ingevoer vanaf Frankryk. “Ek meen dit is bloedlyne wat ’n mens nie sommer weer sal kry nie. Dit is dalk hoekom sy so ’n goeie prys behaal het. Die ooi sal goed wees vir ’n ander stoetery.”
Dit is nie sy eerste rekordprys wat Van Wyk op veilings behaal het nie. Twee jaar gelede het hy die Suid-Afrikaanse rekordprys behaal vir die duurste ram (R55 000) en laasjaar die duurste prys vir ’n ooi sonder lam (R60 000).
Van der Linde boer met skape en het onder meer ’n Ile de France-stoetery, kommersiële kudde en lammer-voerkraal.
Volgens hom is dit die eerste keer dat hy ’n rekordprys op ’n veiling betaal. “Ek belê van tyd tot tyd in goeie teelmateriaal en die ooi en lammers is van dieselfde fenotipe wat ek probeer teel. Sy kom uit die skaars, ingevoerde Fournier-bloedlyn wat ek reeds self in die stoetery beproef het.”
Hy wil die ramlam deel van sy vyfjaar-teelprogram maak.
Saterdag se veiling het op die Ottosdal se skouterrein plaasgevind. Veertig geregistreerde ramme, 90 geregistreerde ooie en 220 kommersiële ooie het onder die hamer gekom.