
Mnre. Carlo en Arturo Cuturi van Mutanda Farms in Zambië was die kopers van WZ 14-52 Jumbo op Hurwitz Farming se agtste produksieveiling op Saterdag 6 Augustus. Die vorige rekordprys vir ’n Boranbul was R1,7 miljoen.
Die prys wat Jumbo behaal het, was een van verskeie rekordpryse op die veiling.
Mnr. Simeon Hurwitz, eienaar van Hurwitz Farming, sê Mutanda Farms het in Oktober verlede jaar op Hurwitz Farming se veilings begin diere koop. Mutanda Farms is ’n gediversifiseerde boerdery-onderneming in Zambië met onder meer stoetbeeste, wild, hoenders, graansilo’s en -meulens.
Hurwitz sê die uitvoer van diere word tans ingevolge bek-en-klouseermaatreëls verbied, maar sodra dit opgehef word, is die logistiek nie ’n probleem nie. Hurwitz Farming het sy eie kwarantyngeriewe.
Hurwitz beskryf Jumbo as “ ’n fenomenale, fenotipiese moderne Boran met die korrekte struktuur”. Jumbo weeg 860 kg en het volgens Hurwitz die perfekte balans tussen spiere en die ideale beenstruktuur. Benewens die regte voorkoms het hy ook baie goeie syfers ten opsigte van teelwaarde.
Van Jumbo se broers en susters is al vir rekordpryse verkoop. Die bul WZ 14-56 Jameson is op Hurwitz Farming se 2019-produksieveiling vir ’n rekordprys van R500 000 aan pres. Cyril Ramaphosa verkoop.
Hurwitz sê hulle het gehoop vir ’n goeie prys vir Jumbo. ’n Aanlyn aanbod van R600 000 op MEERKAT Online Auctions reeds die aand voor die veiling het gewys daar is lewendige belangstelling, maar die prys van oor die R2 miljoen was nogtans ’n verrassing.
Die ander rekordpryse wat behaal is, is R1,1 miljoen vir BH 18-56 Kelly en BH 21-516 Kubota, ’n rekordprys vir ’n Borankoei en -kalf, R1 miljoen vir BH 17-148 Freckles, ’n rekordprys vir ’n dragtige Borankoei, R650 000 vir BH 19-733 Winnie, ’n rekordprys vir ’n dragtige Boranvers, en R320 000 vir BH 20-403 Jasmine, ’n rekordprys vir ’n oop Boranvers.Ander goeie pryse wat vir bulle behaal is, was R1,5 miljoen vir BH 18-703 Chagall en R1,4 miljoen vir BH 18-754 Raphael, wat albei seuns is van die bekende Boranbul Picasso.
Die veiling het ’n totale omset van sowat R18 miljoen opgelewer.
Die gemiddelde prys vir bulle was R624 091, dragtige koeie R347 222, koeie en kalwers R246 667, drie-in-een’s R260 000, dragtige verse R205 417, oop verse R320 000 en semenstrooitjies R3 800.
Hurwitz sê daar was groot belangstelling in die veiling. Die veilingsaal, wat plek het vir 400 mense, was van hoek tot kant vol. Meer as 150 mense het geregistreer as aanlyn kopers.
Hy probeer om altyd op hul veilings iets vir almal te bied en benewens die diere wat toppryse behaal het, was daar onder meer ook ’n bul en ’n koei wat vir R65 000 elk verkoop is.