
Lot 8, BBM 16-96, seun van BBM 13-21 is vir die rekordbedrag van R2,1 miljoen verkoop. Die kopers is mnr. Eben Basson en sy neef mnr. Wessel Ebersohn. Hulle is van Baszohn Bonsmaras by Mooirivier in KwaZulu-Natal.
Baszohn Bonsmaras het ook die naashoogste prys betaal vir lot 16, BBM 18-25, wat vir R1,3 miljoen van die hand gesit is op die veiling waar met lewendige belangstelling nie net van langs die ring nie, maar ook aanlyn gebie is.
Volgens Basson is die bulle wat Baszohn Bonsmaras gekoop het, die rekordbedrae werd. “Ons het verlede jaar begin om ons kudde te bou en ons wil graag die fondament reg lê. Ons glo en vertrou die twee bulle gaan groot waarde tot ons kudde toevoeg.”
Basson sê die Bonsmara se gehardheid en aanpasbaarheid is ’n groot pluspunt. “Ons boer maar eintlik met vleis. As jy speenkalwers teel, het albei bulle – maar veral BBM 16-96 – die regte kapasiteit om vir ons goeie, swaar speenkalwers te gee.”
Hy beskou die Poggenpoel Molopo Bonsmara-stoetery as een van die beste telers in Suid-Afrika en sê daar is baie goeie teelmateriaal op die veiling aangebied.
Die stoetery van mnr. Kobus Poggenpoel en sy seuns, Phillip en Kobus, van die plaas Aliceville naby Setlagole is wyd bekend en sy produksieveiling is deur kopers van reg oor Suid-Afrika bygewoon.
Volgens mnr. Kobus Poggenpoel sr. is die lekkerte om met beeste te boer dat wanneer jy na hulle omsien, kyk hulle ook na jou. Hy was verheug oor die rekordpryse wat behaal is. “Ek en my gesin bedank die Vader vir die genade dat ek nog so betrokke by die boerdery kan wees saam met my seuns.”
Die veiling is deur Noord-Kaap Lewende Hawe aangebied en die afslaer was mnr. Johan van der Nest. Altesaam 77 bulle is verkoop, met ’n gemiddelde prys van R187 078 per bul.