Die kopers, me. Daphne Mashile-Nkosi, en haar seun, mnr. Dennis Magagane, van die Lareina Limousin-stoetery naby Heilbron, het ook twee ander Limousins gekoop. Hulle het R380 000 betaal vir die koei Devlan Daydreamer 1995 en R280 000 vir haar kalf van Xourel Italia, Devlan Pagan DL 2013.
Die verkoper, mnr. John Devonport van Devlan Limousins in Johannesburg, sê die nuwe rekordprys is ’n aansienlike verbetering op die vorige prys van R900 000 wat in Augustus verlede jaar vir twee Limousin-bulle behaal is.
Xourel Italia is volgens hom ’n unieke bul. Daar is in 2019 vir die eerste keer met hom geskou en hy is as die nasionale kampioen aangewys. Hy is in 2022 weer as die nasionale kampioen aangewys.