
Hierdie afdeling is op die eerste ses dae van die skou aangebied. Die skou is van 27 Mei tot 5 Junie op Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aangebied.
Sowat 700 vleisbeeste, skape en bokke van verskeie rasse is onder streng biosekerheidsmaatreëls op die terrein gebring. Sommige diere is so ver soos die Noord-Kaap gebring. Daar was raskompetisies soos dié van die Brahman-beeste, en Ile de France- en Hampshire Down-skape, beoordeling van lewende slagvee en karkaskompetisies, en opleiding oor veeproduksie en skou vir die landbousektor en algemene publiek.
Ook op vanjaar se skou, wat laas in 2019 aangebied is as gevolg van die covid-19-pandemie, was ’n verskeidenheid uitstallings van landboumasjinerie, -werktuie, ander toerusting en tegnologie-handelsmerke.
Die skou se vee-afdeling het die aand van Woensdag 1 Junie afgesluit met die gesogte Goue Beker-parade van beeste, skape en bokke en met die Goue Beker-dinee onmiddellik daarna.
Die 2023 Royal-skou word op 26 Mei tot 4 Junie aangebied en sal die laaste een wees op sy huidige, historiese terrein in die hartjie van Pietermaritzburg.