
’n Noord-Kaapse skaapboer wat meer as 1 000 km afgelê het om aan die Royal-skou se wêreldbekende karkaskompetisie en -veiling deel te neem, was sigbaar emosioneel terwyl sy wenkarkasse onder die afslaer se hamer gekom het vir pryse wat hy nog nooit in sy lewe behaal het nie.
By die skou wat in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, gehou word, het die Dorperlammers van mnr. Bertus Steenkamp van Carnarvon die kategorieë kampioenkarkas, eerste reserwekampioenkarkas en kampioen-groep karkasse gewen.
Hy het aan Landbouweekblad gesê hy was bereid om die lang reis te maak want die Royal-skou se karkaskompetisie is gesog en stel hom ook in staat om sy produksiepraktyke te vergelyk met ander top-skaapvleisprodusente.
Steenkamp se kampioen-karkas (23,3 kg en 97,15%) is vir R350/kg verkoop. Sy eerste reserwekampioen-karkas (25,2 kg en 95%) is vir R360/kg verkoop. Sy kampioen-groep karkasse is vir R300/kg verkoop.
“Hierdie pryse wat hier vir my karkasse betaal is, is die beste wat ek nog ontvang het. Dit is veral verstommend omdat ons uit ’n droogte van vyf jaar kom wat eers in Oktober 2021 geëindig het. Ons lammers lyk so goed omdat ons weiding weer mooi groen is,” het Steenkamp gesê.
Die eerste reserwekampioen-groep karkasse was Ile de France-lammers van mnr. Harry Meyer van Witbank, Mpumalanga. Hulle is vir R270/kg verkoop.
Die kampioen in die kategorie vir Europese teelmateriaal is geteel deur mnr. Ernst Woest van Rayton, Gauteng. Sy Ile de France-karkas (19,1 kg en 93,91%) is vir R320/kg verkoop. ’n Ile de France-karkas (19,2 kg en 93,43%) van me. Regina Harmse van Ermelo, Mpumalanga, is as reserwekampioen aangewys. Dit is vir R380/kg verkoop.
Elke bekroonde lamkarkas op die Royal-skou, saam met bykans 200 ander lamkarkasse, is almal deur Suid-Afrika se Checkstar/Hypercheck Groep (CHG) van kleinhandelkettingwinkels gekoop. Mnr. Andrew Coppin, hoof van die groep se varsvoedselafdeling, was die bieër.
Al die lams- en beesvleisinskrywings is deur Halaal Fresh Meats in Thornville, KwaZulu-Natal, verwerk.
Coppin het gesê dat CHG vasbeslote was om ten volle te benut om van die beste lamkarkasse wat Suid-Afrika kan bied, te kan koop. Dit was om die groep se klante te wys dat dit CHG se doelwit is om hulle altyd van die beste gehalte halaal-skaapvleis en ander halaalvleis moontlik te voorsien.
Ondersteuning vir boere
“Ons wil ook ons ondersteuning wys vir al die boere wat hard werk om voedsel te produseer. Ons is bly om elke boer wat lamkarkasse vir hierdie kompetisie ingeskryf het, te kon ondersteun. Ons het tans ’n groot advertensieveldtog wat ons ondersteuning aan ons klante en verskaffers ten toon te stel,” het Coppin gesê.
In die kompetisie se beesvleiskategorie was die kampioenkarkas ’n Beefmaster-karkas (247,5 kg en 93,78%). Dit is deur Weston-landboukollege in Mooirivier, KwaZulu-Natal, geproduseer en vir R72/kg aan Kennedy Caterers in Durban verkoop. Die eerste reserwekampioenkarkas was ’n Beefmaster (235,5 kg en 92,19%) wat deur Cedara-landboukollege geproduseer en vir R65/kg verkoop is.
Cedara het die kampioen-groep karkasse geproduseer. Dit was Beefmasters wat vir R60/kg verkoop is. Weston het die eerste reserwekampioen-groep karkasse geproduseer. Dit was Beefmasters wat vir R62,50/kg verkoop is.
Die kampioensuper-beeskarkas, ’n Bonsmara (555,8 kg en 89,89%), is vir R60/kg verkoop. Dit is geproduseer deur mnr. Jason Stay van Underberg, KwaZulu-Natal. Die eerste reserwekampioensuper-beeskarkas, ’n Bonsmara (516 kg en 89,73%) van Ferrero Bonsmaras van Harrismith is vir R60/kg verkoop.
Die kampioenvarkkarkas was ’n Topigs Norsvin (96,9 kg en 95,7%) is deur Butt Boerdery van Kamberg, KwaZulu-Natal geproduseer en vir R30/kg aan Kennedy Caterers verkoop. Butt Boerdery het ook die eerste reserwekampioen-karkas (89,9 kg en 93,5%) vir R31/kg, die tweede reserwekampioen-karkas (87,1 kg en 92,58%) vir R30/kg en die kampioen-groep karkasse vir R25/kg verkoop. Hulle was almal van die Topigs Norsvin-ras.
Die eerste reserwekampioen-groep varkkarkasse was van die PIC-ras. Dit is deur die Benson-groep van Karkloof, KwaZulu-Natal, geproduseer en vir R18/kg verkoop.
’n Danbred-varkkarkas (66,4 kg en 92,43) wat deur mnr. Lindo Sishi van Soguba-boerdery by Bulwer, KwaZulu-Natal, het die kategorie kampioen-karkas deur opkomende boere gewen. Dit is vir R30/kg aan Kennedy Caterers verkoop. Soguba-boerdery het ook die eerste reserwekampioen in hierdie kategorie opgelewer. Dit was ’n Danbred (65,7 kg en 91,17%) wat vir R25/kg verkoop is.
Landbouweekblad was die borg van die Royal-skou se karkaskompetisie en -veiling.