
Mnr. Jacques Bester, president van die Swartlandskou, sê die skouterrein is gereed vir ongeveer 20 000 besoekers van Woensdag tot Saterdag 10 September, wanneer die skou tot ’n einde kom.
“Vir my is die hoogtepunt van die skou geborge in my liefde vir mense. Dit gaan oor die samesyn van mense, veral ná die twee jaar dat die skou nie kon plaasvind nie. Dis lekker om mense bymekaar te bring wie se daaglikse lewe uit die landbou bestaan.”
Bester sê die skou gee ondersteuning aan die landboubedryf wat die afgelope twee jaar met groot kwessies moes vrede maak.
“Die grootste probleem op die oomblik is stygende insetkoste. Die huidige vlakke van koste, byvoorbeeld vir kunsmis, brandstof en selfs gif, maak dit moeilik om volhoubaar en, soos in die verlede, normaal te kan funksioneer. Landbouplatforms soos hierdie bied geleenthede om direk met verskaffers en verskillende instellings in die landbousektor te gesels, planne te maak en oor die pad vorentoe te besin.”
Bek-en-klouseer
Die verbod op die verskuiwing van beeste weens die uitbreking van bek-en-klouseer het vanjaar ongelukkig gekeer dat beeste nie soos oudergewoonte op die skou teenwoordig is.
Bester sê dié terugslag het egter nie sy komitee se planne en geesdrif gedemp nie.
Pleks van die beeste is daar nou diere soos alpakkas, donkies en miniatuurperdjies in die tent waar kinders hulself kan besig hou.
Hy sê daar is ook ’n groot kans dat die beeste wat daar sou wees, op 1 Oktober tydens ’n motorskou die geleentheid sal kry om geskou te word.
Biosekerheid
Bester sê biosekerheid is vir hulle baie belangrik en daarom word die paviljoen, kampe, stalle, diere en alle sleepwaens en voertuie wat die skouterrein ingaan, met Peroxsil behandel.
Volgens mnr. Retief Nel, verkoopsbestuurder van Peroxsil in Suid-Afrika, maak die produk kieme wat covid-19, vuilbek, vrotpootjie, bek-en-klouseer en vele ander siektes veroorsaak, dood.
Verskeidenheid
Die SA Vlaamperd-kampioenskap, die Wes-Kaapse Hackney-kampioenskap en die WP Saalperd-kampioenskap vind onder meer op die skou plaas.
Wat skaap betref, word die Swartland Jeugskou, die Swartlandse Merino-kampioenskap en die Wes-Kaapse SA Vleismerino-kampioenskappe ook aangebied.
Ongeveer 350 Boerbokke sal aan die Wes-Kaapse Boerbokklub se streekkampioenskap deelneem.