
Die
66ste nasionale veiling van die SA Vleismerino-telersgenootskap in Bloemfontein
het verskeie rekordpryse opgelewer, asook ’n goeie vraag na die teelmateriaal
van belowende jong stoettelers.
Mnr. Willie Geldenhuys van die plaas Kaalfontein, Ventersdorp, se ram PR 20-0001 is teen ’n rekordprys van R220 000 aan mnr. Du Toit Cillié en sy vrou, Riana, van die Agterland-boerdery by Porterville verkoop. Die vorige hoogste prys vir ’n SA Vleismerinoram was R110 000 (2017).
Geldenhuys is die afgelope 16 jaar by stoetteling betrokke. Altesaam sewe van sy vrou, Nadia, se ooie is teen gemiddeld R25 000 aan mnr. Willem Eigenhuis van Meerlust by Graaff-Reinet verkoop. Eigenhuis, ’n Midde-Oosterse landbou-konsultant, het die rekordprys vir ’n ooi van R42 000, ook van Geldenhuys, vir 21-0060N betaal. Die vorige rekordprys was R27 000.
Eigenhuis, wat pas met ’n stoetery begin het, is in sy noppies dat drie van sy ooi-aankope met lammers van die rekordprysram, PR 20-0001, dragtig is.
Tweede rekord
Die tweede duurste ram op die veiling is vir R115 000 verkoop. Dit verbeter ook die vorige rekordprys. Hy is deur mnr. Manie en mev. Alta Lombard van Stelana-Vleismerino’s, Nooitgedacht, Oranjeville, geteel en aan mnr. Gideon Slabbert van Excelsior, Bethlehem, verkoop.
Altesaam 23 dragtige ooie het ’n gemiddelde prys van R13 804,35 behaal en 13 nie-dragtige ooie gemiddeld R13 076,92. Die gemiddelde prys van die 73 ramme was R24 808,22.
Die veiling is deur BKB aangebied en die afslaer was mnr. Gert Jordaan.