
Die landbousakekamer Agbiz, die Suid-Afrikaanse nasionale saadorganisasie, Sansor, en die chemikalieë-bedryfsliggaam, CropLife SA, het pas aangekondig dat hulle appèl aangeteken het teen ’n besluit dat nuwe teeltegnieke aan dieselfde streng regulasies as vir geneties gemodifiseerde organismes (GMO’s) onderwerp moet word.
Die uitvoerende raad vir die GMO-wet het in Oktober sy besluit dat die bestaande risiko-ontledingsraamwerk vir GMO’s ook vir produkte van nuwe teeltegnieke soos genoomredigering moet geld, bekend gemaak. Die appèl, ingevolge artikel 19 van die GMO-wetgewing, is einde November aangeteken en daar word nou gewag vir die volgende stappe in die proses.
In die appèl, onder leiding van Agbiz, vra bedryfsvennote dat die regulering van produkte wat deur nuwe teeltegnieke ontwikkel word, op die wetenskap gegrond moet word. Hulle sê die Suid-Afrikaanse reguleerder se GMO-definisie strook nie met ’n wyd aanvaarde beginsel dat produkte van nuwe teeltegnieke nie anders gereguleer moet word as hulle identies is aan, óf nie onderskei kan word van produkte wat deur natuurlike of konvensionele teeltegnieke verkry kon word nie.
Die organisasies waarsku dat Suid-Afrika se besluit om al hierdie produkte as GMO’s te reguleer nie net wye implikasies vir Suid-Afrika en plaaslike innovasie sal inhou nie, maar ook vir die internasionale handel in produkte wat deur nuwe teeltegnieke ontstaan het. “Ongelykmatige regulering kan lei tot voedselonsekerheid en aansienlike handelsversperrings skep tussen Suid-Afrika en sy handelsvennote,” waarsku hulle in ’n verklaring.
“Die huidige benadering oor regulering sal ook die ontwikkeling en benutting van nuwe tegnologie ontmoedig in Suid-Afrika se navorsingsomgewing. Dit sluit plaaslike saadmaatskappye, openbare en akademiese navorsingsliggame en klein sowel as mediumgrootte innoveerders in.”
Hulle wys daarop dat dit bykans onmoontlik sal wees om te bepaal of genetiese veranderinge deur konvensionele teling, natuurlike mutasies of deur ’n nuwe teeltegniek geskep is. Daarom sal dit moeilik wees om nuwe produkte te toets en te klassifiseer. Dit sal onoorkomelike hindernisse tussen handelsvennote skep, want dit is onwaarskynlik dat daar ’n omvattende lys van produkte in die globale waardeketting beskikbaar sal wees, wat aandui of hulle deur nuwe teeltegnieke ontwikkel is.
“Die bedryf sal sy kwellinge onder die aandag van die besluitnemers bring wanneer die besluit oor die regulering hersien word. As ’n bedryf beskou ons die department en al die relevante reguleerders as belangrike vennote in die proses en ons sien uit daarna om ten nouste saam te werk om ’n wedersyds aanvaarbare oplossing te vind.”