Al raak ’n mens hoe kwaad vir Eskom oor die frustrasie van ontydige beurtkrag en ander onderbrekings moet verbruikers steeds mooi dink voordat hulle uit pure frustrasie hul huise, besighede en boerderye van die nasionale kragnetwerk ontkoppel, sê die energiespesialis mnr. Henning Holm van Holms and Friends.
“Dit is ’n plan om van die netwerk te ontkoppel, maar nie noodwendig die beste een nie.” Holm stem saam met gefrustreerde Suid-Afrikaners wie se somme toon dat alternatiewe energiestelsels ekonomies sin maak, maar volgens hom moet jy ’n gordel saam met jou kruisbande dra vir ekstra veiligheid.
“Bou dus jou stelsel sodat jy uiteindelik van die netwerk kan afgaan, maar moet dit nie noodwendig alles op een slag doen nie. Begin by die noodsaaklike en werk stap vir stap aan wat nou nodig is, terwyl jy jou kontantvloei beskerm.