Die afgelope drie jaar het mnr. Gert Visser van Bothaville se pasgemaakte graanwerktuigontwerpe uit hul nate gebars. Dié suksesvolle ontwerpe strek van ’n gravitasietapkar-en-ontlaaiwa tot ’n kompakte sleepwa en ’n meerdoelige ontlaaisleepwa vir die uitstrooi van kalk en kunsmis.
Visser bou die afgelope agt jaar graanwerktuie in die mieliehoofstad, en is al van kleins af met ysters deurmekaar. “Ons het self die ysterwerktuie op ons familieplaas in die Sandveld onderhou.”
Hy is oorval deur navrae, en só is ’n nuwe vertakking gebore. “As mentor is ek bereid om ontwerpe met boere te deel, en ek wil selfdoeners op plase help om pasgemaakte werktuie te bou.”