Dié gratis webgebaseerde karteringstoepassing kan help met verskeie landboupraktyke, omgewingsbestuur en plaasbeplanning.
Dit is soos om al jou klere uit te trek – jy kan niks wegsteek nie. Só het die wingerdboukundige me. Rosa Kruger droogweg opgemerk toe sy tydens die Ou Wingerdprojek se werksessie op Stellenbosch oor die waarde van Cape Farm Mapper gepraat het.
Dié aanlyn karteringshulpmiddel help met ruimtelike inligting en besluitneming vir die landbou en omgewingsbestuur. Volgens dr. Mike Wallace, spesialiswetenskaplike by die Wes-Kaapse departement van landbou, is die nuttige hulpmiddel vir plaasontwerp aanvanklik vir hul eie amptenare en streeksbeplanningsvennote ontwikkel.