Daar word ál hoe meer klem geplaas op grondgesondheid as die grondslag vir suksesvolle gewasproduksie. Gesonde grond het die vermoë om binne ’n ekostelsel en die grense vir grondgebruik as lewensbelangrike stelsel te funksioneer, landbouproduktiwiteit te bevorder en terselfdertyd water- en luggehalte te handhaaf of te verbeter.
Gesonde grond beteken dus gesonde gewasse. As ’n boer die gesondheidstatus van sy grond verbeter, word die insetkoste verlaag en die volhoubaarheid van die grond verhoog. Dit is dus belangrik om die gesondheidstatus van grond te bepaal om doeltreffende produksie te verseker.
Daar is verskeie biotiese (lewende) en abiotiese (nie-lewende) aspekte van grondgesondheid. Die biotiese aspekte kan bepaal word met behulp van die organismes, veral mikro-organismes, wat in die grond voorkom.