Die beleid en wetsraamwerk vir die gebruik daarvan skiet egter nog tekort, en reuse-beleggings in infrastruktuur sal nodig wees om dié geleenthede werklikheid te laat word.
Suid-Afrika se ambisie om ’n wêreldleier in die groen waterstofbedryf te word, is in November 2022 deur pres. Cyril Ramaphosa aan die groot klok gehang toe hy die potensiaal en voordele van dié hernubare kragbron tydens sy openingsrede van die land se eerste groen waterstofberaad in Kaapstad uiteengesit het.
Groen waterstof geniet volgens hom voorkeur binne die regering se plan vir die land se oorgang na laer koolstofvrystellings en klimaatveerkragtigheid. Om dit te bewerkstellig, sal sowat $98 miljard (R1,5 biljoen) oor die volgende vyf jaar nodig wees.