Een van hulle is mnr. Eugene Herbert, uitvoerende hoof van MasterDrive, ’n maatskappy wat gevorderde voertuigbestuurskursusse aanbied. In ’n verklaring wys hy daarop dat die vervaardiging en vrystelling van sogenoemde brandstofbesparende pille reeds in verskeie lande verbied word.
Dit is omdat sommiges naftalien bevat. Dié middel kan onder sekere omstandighede brandstofverbruik en uitlaatgasse effens verminder, maar veroorsaak ’n opbou van koolstof in voertuigenjins wat later tot swakker werkverrigting kan lei.
“In een geval het ’n pil ook ferroseen bevat wat neerslae op vonkproppe veroorsaak ná so min as 5 000 km. Dit kan selfs groter brandstofverbruik veroorsaak, asook ’n aantal ander skadelike gevolge.