Boonop waarsku kenners dat ’n mens nie té lank moet talm met sulke aankope nie, want die vraag na en prys van alternatiewe energieoplossings het reeds begin styg vanweë die wrywing tussen Rusland en sy Europese gasaankopers oor die oorlog in Oekraïne.
Verder is daar beurtkrag in Suid-Afrika om mee rekening te hou. Die Bluetti EB240-draagbare litiumkragstasie sal nie ál die ligte kan aanhou nie, maar ten minste kan jy jou rekenaar aan die gang hou tydens beurtkrag, die rugbywedstryd op die televisie kyk en ’n lig of twee aanskakel.
Dit kan jou 800 W-elektriese boormasjien in die werkwinkel of jou yskas vir sowat 2½ uur laat werk, jou skootrekenaar vir omtrent 32 uur, ’n 60 W-gloeilamp vir 32 uur en jou 100 W-televisiestel vir sowat 30 uur.