Die tweepak-radio’s het ’n litium-ioon-battery wat gelaai word met ’n lessenaarlaaier of by ’n USB-laaier ingeprop kan word. Die batterye is binne drie uur volgelaai. Die radio’s het ’n werksduur van gemiddeld 25 uur wanneer volgelaai, en het ’n aanwyser wat aandui wanneer die battery begin pap raak.
Die radio’s se klank is helder en 16 kanale is vooraf geprogrammeer. Die reikwydte van die UHF (ultra-high-frequency) FM-ontvangerradio’s hang af van die terrein waar dit gebruik word. Hulle kan binnenshuis oor ’n afstand van 600 m tot 1,2 km gebruik word en buite oor ’n afstand van 2 km tot 6 km.
Uitsending na ’n verhewe area binne sig is 10 km tot 30 km. Die lisensievrye bandwydte vir die radio’s is 446 MHz (agt frekwensies) en 464 MHz (vyf frekwensies). Kraguitset vir die radio’s is 500 mW sonder ’n lisensie en 3W met ’n lisensie.