Anders as die meeste van dié soort flitse, het die T3R ’n enkele battery, pleks van twee, wat hom baie kompak maak (slegs 17,5 cm lank). Nogtans het die flits ’n straalafstand van 1 095 m en ’n maksimum uitset van 1 600 lumen.
Die 21 700- (5 000 mAh) battery is dikker as die gewone 18 650-batterye, wat ’n stewige greep op die dikker steel toelaat. Volgens die verspreider is nog ’n bonus dat die T3R ook as ’n kragbank gebruik kan word om byvoorbeeld ’n selfoon te herlaai.
Die flits se funksies (High, Medium, Low, Strobe en SOS) word met die kantskakelaar gekies en daar is ’n geheuevermoë wat verseker dat die verlangde sterkte lig verkry word wanneer die flits weer aangeskakel word. Die stertskakelaar is elektronies en maak nie ’n kliekgeluid nie.