Die multinasionale avokadoprodusent Westfalia maak gedurig somme met groter volhoubaarheid in gedagte. Op die vorige Sabi-konferensie in 2019 het die landbou-ingenieur mnr. Johan Grobler verslag gedoen oor ’n 5 ha-proefblok avokado’s wat van mikrobesproeiing na laevloeidrupbesproeiing (LFD) omgeskakel is.
Westfalia was só beïndruk met die resultate dat hy intussen 202 ha nuwe aanplantings in Suid-Afrika en Mosambiek met LFD toegerus het. Nog 238 ha bome is van mikro- en sprinkelbesproeiing na LFD omgeskakel. Buiten die 440 ha boorde onder LFD-besproeiing word nog 600 ha beoog.
Die idee met LFD is om water oor ’n langer tydperk, maar teen ’n baie laer vloei toe te dien. Die voordele hiervan sluit in dat verdampings- en windverliese grootliks uitgeskakel word. Skedulering kan ook makliker aangepas word vir reënbuie, hittegolwe en kragonderbrekings.