
Naspers Foundry is ’n beleggingsvoertuig waardeur Naspers in vroeëfasetegnologie belê. Dit is die tiende belegging wat Naspers Foundry sedert sy ontstaan in 2019 maak. Dit vorm deel van Naspers se onderneming om R1,4 miljard te belê om Suid-Afrika se tegnologie-ekostelsel te help uitbrei.
Mnr. Louis de Kock jr., een van die stigterslede van Nile, het verlede jaar aan Landbouweekblad gesê die doel van Nile, wat in 2020 op die been gebring is, is om ’n oorgrensplatform daar te stel wat voedsel bekostigbaarder en meer bereikbaar in Afrika maak.
Van November 2020 tot Maart 2021 is meer as 5 000 ton vars produkte op die platform verkoop. Dié syfer het intussen opgeskiet tot 30 000 ton. Kopers kom tans uit 35 dorpe en stede in Suid-Afrika, Botswana, Namibië, Eswatini en Mosambiek.
“Nile bied digitale oplossings vir verskeie probleemareas in kosverhandeling. Dit sluit in prysdeursigtigheid, gehalte-verfikasie, spoed van betalings, naspeurbaarheid en kosvermorsing. Nile se proses verbind boere met kommersiële kleinhandelaars in Suid-Afrika en die res van die vasteland,” lui ’n mediaverklaring.
Die maatskappy gebruik data en ’n komplekse logistieke netwerk sodat boere markte kan bereik wat ’n beter inkomste bied, al is dit nie noodwendig die naaste aan hulle nie. Die kopers kry regstreekse inligting oor die beskikbaarheid en koste van ’n wye reeks produkte.
Die dienste word gebruik deur kleinskaalse en kommersiële boere. Net so is die kopers op die platforms enigiemand van genoteerde maatskappye tot klein- en groothandelaars.
Mnr. Fabian Whate, hoof van Naspers Foundry, sê Nile verskaf ’n geïntegreerde ekostelsel wat vertroue skep tussen kopers en verkopers.
“Dis ’n goeie voorbeeld van hoe tegnologie-entrepreneurs met vernuwende oplossings vorendag kom om mense se daaglikse behoeftes te vervul. Ons is opgewonde oor Nile se groeipotensiaal en vermoë om die verhandeling van vars produkte te transformeer.”
Volgens me. Phuthi Mahanyele-Dabengwa, uitvoerende hoof van Naspers in Suid-Afrika, help Nile om voedselsekerheid te bewerkstellig. Die belegging is ’n voorbeeld van hoe tegnologie gemeenskappe kan ondersteun en ekonomiese geleenthede verbeter.