Elektrisiteitsrekeninge van kweekhuise kan met tot ’n derde verminder word deur hul nuwe internet-gekoppelde, vooruitbepalende beligtingstelsel, sê navorsers aan die Universiteit van Georgia (UG) in Amerika.
Op reënerige of bewolkte dae word kweekhuisligte tipies aangeskakel. Dit werk goed vir die plante, maar kan tog elektrisiteit vreet en soms skyn wanneer dit nie nodig is nie.
Die nuwe stelsel monitor hoeveel sonskyn ontvang word, en skakel daarvolgens net die ligte aan wanneer die plante dit werklik nodig het. Data hieroor het in die vaktydskrif Plants verskyn. Die stelsel het 4% elektrisiteit in die winter bespaar en 44% in die lente.