Die 4 m- Rubin 10 kan onder meer met ’n Seedhub 5-fynsaadplanter toegerus word, wat beteken dekgewasse kan geplant word terwyl die saadbedding voorberei word. Só word brandstof bespaar en doeltreffendheid verhoog.
Die Dolomit 9 is ’n nuttige werktuig waaraan ’n krageg gehaak kan word met ’n Lemken Solitaire-fynsaadplanter. Hoewel die Dolomit 9 reeds geruime tyd deur Lemken vervaardig word, het Lemken Suid-Afrika dit vanjaar die eerste keer aan plaaslike boere bekend gestel.
Deur ’n krageg agter die Dolomit 9 te haak, kan verdigte grond, veral in weidings, opgebreek en ’n saadbedding geskep word. Terselfdertyd kan die Solitaire gebruik word om ’n winterweidingsgewas te plant. Lemken bied ’n aantal soortgelyke werktuie vir verskillende bewerkings.