Sonkragpompe is baie nuttig om water te pomp. Mnr. Pierre Oosthuizen van Open Solutions Noordwes sê ’n sonwaterpomp gebruik sonpanele en beheerapparaat om die son se energie te versamel waarmee water dan uit ’n boorgat of rivier na ’n watertenk of dam gepomp word.
Só ’n stelsel het nie batterye nodig om die elektrisiteit in op te berg nie, maar pomp net wanneer die son skyn (in sonnige Suider-Afrika minstens ses tot sewe uur), wat die stelsel kostedoeltreffend maak.
’n Sensor beheer die sonpomp en skakel dit af wanneer die tenk of dam vol is om te verseker die boer het altyd genoeg water. Die pomp skakel ook af as die watervlak in die rivier of boorgat te laag daal sodat die pomp nie beskadig word nie.