
Dit gaan gratis beskikbaar wees aan familieboere in Suid- en Suider-Afrika
en daar word beoog om dit uit te brei na 76 ander nasionale organisasies op ses
vastelande wat familieboere verteenwoordig. Die WhatsApp-gebaseerde platform is
’n nuwigheid. Dit is bekend as Hi Saai en gebruik miljarde datapunte op die
internet om binne minute ’n komplekse raamwerk te ontwikkel waarbinne ’n
volledige antwoord op boerderyverwante vrae gegee kan word.
Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, het by die bekendstelling gesê in ’n omgewing waar groot korporatiewe groepe en multinasionale maatskappye algaande primêre produksie begin oorneem, is daar net een manier waarop die wêreld se klein en mediumgrootte boere gaan oorleef en dit is met behulp van die beste digitale tegnologie.
“Die plaas van die toekoms sal bestuur word met groot data, robotte, hommeltuie en satelliete, die internet van dinge, blokkettingtegnologie, en veral kunsmatige intelligensie. As ’n netwerk vir familieboere is dit Saai se missie om hierdie tegnologie binne bereik van elke plaasgesin te bring.”
De Jager het gesê toe hy op ’n keer as die voorsitter van die Wêreldboere-organisasie die sakeman Bill Gates in Seatle besoek het, het Gates beklemtoon dat data die nuwe goud in landbou is. “Hy het gesê dit is die presisie-deel van presisieboerdery en om mededingend te bly moet jy op die snypunt van datategnologie wees en boere moet nooit die eienaarskap van hul data prysgee nie.”
De Jager het gesê dit is ’n boodskap wat hy altyd sal onthou en daarom het Saai ’n tyd gelede met die platform begin om vir enige boer met ’n slimfoon of rekenaar te help om toegang te kry tot navorsing. Hi Saai is nog in ’n ontwikkelingsfase en ’n ál groter groep boere word daarby betrek om haakplekke uit te stryk.
“Ons leer nog uit ons ervaring, maar binne enkele weke sal Hi Saai as ’n
gratis bestuurshulpinstrument vir elke boer in Suid-Afrika beskikbaar wees
voordat dit elders in Afrika en wêreldwyd beskikbaar gestel word. Hierdie is ’n
unieke Suid-Afrikaanse produk wat ons opgewonde maak en oor ’n jaar gaan hy al
heelwat anders lyk.”
Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het gesê hulle is reeds in gesprek met landbou-unies oor die wêreld heen om die platform so wyd as moontlik beskikbaar te stel. “Die verste, kleinste en armste boere kan die beste beskikbare raad van Hi Saai kry as hulle ’n internetverbinding het.”
“Hi Saai plaas die heel beste kundigheid en inligting wat beskikbaar is, binne bereik van elke boer. Dit verskuif die horisonne van landboutegniese raadgewende dienste en dek elke faset van boerdery – van sakeplanne, finansiële raad en meganisasie tot die toediening van chemikalieë, produksiebeplanning, bemarking en programmering.”
Hy het gesê hulle sal 70% afhanklik wees van internasionale data en 30% van eie Suid-Afrikaanse landbou-inligting wat in die stelsel ingevoer sal word. Daar is reeds hiermee begin.
De Jager het gesê vir die ouer geslag boere is hierdie ’n nuwe wêreld, maar dit is die tipe van tegnologie wat jong mense laat terugkom plaas toe. “Hulle verstaan dit baie beter en dit help hulle om weer ’n toekoms in die landbou te sien en mededingend te bly.
“Hi Saai is ’n superkonsultant sonder die rekening, ’n heeltydse raadgewer-analis sonder die salaris, en ’n vennoot sonder die winsdeling.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.