
Die Britse biotegnologiemaatskappy Oxitec het steriele insektegnologie (SIT) ontwikkel in ’n poging om die herfskommandowurm te bekamp. Daar is egter vele kwessies met die gebruik en doeltreffendheid daarvan vir Suid-Afrikaanse boere.
Danksy die tegnologie, waarvoor studiebevindinge gepubliseer is in die vaktydskrif BMC Biotechnology, sal manlike motte met dié selfbeperkende geen in natuurlike bevolkings vrygelaat word. Hulle kan op ’n gelyke voet meeding om paarmaats. Wanneer die wurms met die beperkende geen met wilde vroulike motte paar, sal die geen aan hul nageslag oorgedra word, wat die vroulike nageslag sal verhinder om voort te plant. Met deurlopende vrystelling van dié manlike wurms in gewaslande kan vroulike wilde wurms met verloop van tyd al hoe minder raak, wat die getalle sal afbring.
Die herfskommandowurm is een van die wêreld se mees vernietigende gewasplae. Dit veroorsaak jaarlikse nagenoeg $10 miljard (R152 miljard) se skade aan gewasse – veral mielies – in Noord- en Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië. Die indringer het in 2016 sy opwagting op die Afrika-vasteland gemaak, waar boere jaarliks $6,1 miljard (R92 miljard) weens die plaag verloor.
Die probleem word vererger aangesien die wurm in sekere gebiede weerstand begin opbou het teen gewasbeskermingshulpbronne, soos Bt-gewasse en insekdoders. Boere moet gevolglik meer insekdoders gebruik, terwyl hul opbrengste verminder.
Dié SIT-tegnologie het in 2021 kommersiële bioveiligheidsgoedkeuring van reguleerders in Brasilië ontvang, met veldtoetse wat tans uitgevoer word.
Volgens wiskundige modellering wat vir die studie gebruik is om te bepaal watter toekomstige gevaar die herfskommandowurm in die mielieproduksiegebiede in Brasilië kan inhou, sal die plaag in die komende jaar weerstandigheid teen Bt-gewasse ontwikkel.
“Wanneer die manlike motte egter vrygelaat word, toon modellering dat dit aansienlik langer duur voordat die wurms weerstandigheid teen Bt-gewasse ontwikkel. Dit beteken dat die bekamping van herfskommandowurms oor ’n baie langer periode volgehou kan word.
“Ons FriendlyTM Fall Armyworm word voorberei om die volhoubaarheid van mielieproduksie in Brasilië en ander lande te verander en om voedselsekerheid op lang termyn te ondersteun,” sê mnr. Grey Frandsen, uitvoerende hoof van Oxitec.
Die maatskappy belowe dat die oplossing omgewingsvriendelik is aangesien slegs herfskommandowurms in die spervuur is en ander insekte soos bye en natuurlike predatore nie geraak word nie. Indien die vrylating stopgesit word, sal die selfbeperkende geen binne ’n paar generasies verdwyn.
Kwessies vir Afrika
Volgens prof. Johnnie van den Berg, programbestuurder vir geïntegreerde plaagbeheer aan die Noordwes-Universiteit, kan SIT baie doeltreffend gebruik word om plae te bekamp. Die bekamping van valskodlingmot in Suid-Afrika is ’n goeie voorbeeld.
“Dit sal egter baie moeilik (indien nie onmoontlik nie) wees om ’n plaag soos die herfskommandowurm op hierdie manier te bekamp,” sê Van den Berg. “Die probleme is onder meer die beleid oor GM-tegnologie in Afrika, plaagekologie en die koste van die tipe bekampingstrategie.”
Hy sê om SIT doeltreffend te bedryf is dit baie belangrik dat die teikenplaag grootliks in ’n beperkte geografiese area voorkom waar die steriele mannetjiemotte vrygelaat word. Die endemiese broeigebiede van hierdie plaag in Afrika is in die tropiese gebied en daar is slegs ’n beperkte aantal areas waar die plaag permanent in Suid-Afrika gevestig is.
“Omdat dit nie moontlik is om te voorspel waar die plaag seisoenaal in die kommersiële mielie-produksieareas in Suid-Afrika gaan uitbreek nie, is die nut van hierdie tegnologie plaaslik baie beperk. Dit sal definitief nie op plaasvlak of selfs provinsiale vlak toegepas kan word nie.”
Die SIT-motte moet in die broei-areas van die plaag vrygelaat word, soos in die noordelike dele van KZN en Limpopo, asook die Laeveld van Mpumalanga. Hy sê die dilemma daarvan is dat die plaagbevolkings in hierdie areas aangevul sal word deur migrerende motte vanuit die meer oostelike en sentrale gebiede van Afrika, wat die uitwerking van SIT op plaaslike vlak sal uitkanselleer.
“Indien SIT vir die bekamping herfskommandowurm gebruik kan word, sal op streeksvlak oor die regulatoriese aspekte daarvan ooreengekom moet word aangesien die motte van die plaag honderde kilometers binne enkele dae kan migreer en sodoende die grense oorsteek na lande waar GM-tegnologie nie toegelaat word nie.”
Suid-Afrika is tans die enigste land in Suider-Afrika wat GM-mielies en -katoen toelaat en een van slegs vier in Afrika.