Die skoot klap só hard soos dié van ’n regte vuurwapen en daar is selfs ’n vuurblits by die loop, net soos die ware Jakob, maar daar is geen projektiel nie. Daarom het ’n mens nie ’n lisensie of dra-permit nodig nie.
Daar is nou ’n verskeidenheid getroue replikas van bestaande handwapens wat spesifiek gemaak is vir loskruitpatrone wat soos doppies sonder koeëls lyk. Dit is ideaal vir vuurwapenhanteringopleiding, maar kan ook in ’n noodgeval gebruik word om aanvallers af te skrik.
Daar is ook pepergasrondtes vir hierdie handwapen beskikbaar wat, as die eerste waarskuwingskoot nie werk nie, jou aanvaller tot op ses meter in ’n wolk pepergas sal omhul. Wees egter gewaarsku, jy kan en sal waarskynlik ingevolge die Vuurwapenwet vervolg word as jy hierdie wapen wederregtelik op iemand rig.