“Ek gebruik Sense-Hub Beef-tegnologie van All-flex. Dit is oorspronklik vir melkproduksie ontwikkel, maar is daarna effens aangepas vir vleisbeesproduksie. Ek gebruik dit tans uitsluitlik om bronstigheid by my verse en koeie vas te stel. Ek het dit in Junie 2022 gekoop en het die stelsel tot dusver een keer gebruik, maar is reeds beïndruk.
“ ’n SenseHub Beef-sensor hang aan ’n band om ’n teelkoei se nek. Dit monitor haar herkou, liggaamlike aktiwiteit en ander aspekte om dan te bereken en my in kennis te stel van die optimale tyd om haar kunsmatig te insemineer (KI). Die lesings daarvan word koordloos, via ’n seinversterker, na die plaasrekenaar en na my selfoon oorgedra.
“Anders as met meer tradisionele metodes, soos die gebruik van koggelbulle en om persoonlik vir staande bronstigheid te moet waarneem, is die SenseHub Beef-tegnologie baie akkurater, gerieflik en prakties. Dit is veral belangrik om moontlike vermorsing van semenstrooitjies wat so duur word, te vermy.