
Die Fruit Logistica Innovasie-toekenning is vanjaar aan Granada La Palma in Spanje se Amela-tamatie toegeken. Besoekers aan Fruit Logistica het twee dae gehad om te stem vir die produk op die ekspo wat hulle meen die innoverendste is. Amela het sowat twee derdes van die stemme ingeoes.
Die tamatie se intense aroma, hoë Brix-waarde en talle voedingstowwe en aminosure het kiesers beïndruk, want die tamatie is byna so soet soos ’n vrug.
Luidens ’n mediaverklaring het die idee vir Amela in 1996 in Japan ontstaan. Besproeiing word tot die minimum beperk om die suiker- en suurvlakke in die tamatie te balanseer vir ’n ongelooflike eetervaring. Die tamaties word tans in die suide van Spanje volgens tradisionele metodes verbou.
Mnr. Pedro Ruiz, president van Granada La Palma, sê die toekenning beteken baie vir ’n Spaanse koöperasie soos hulle s’n.
“Die tamatiesituasie is wêreldwyd ingewikkeld, maar die erkenning gaan nie net oor Amela nie. Die prys sal ook erkenning bring aan die tamatie as ’n geheel, wat nog altyd hoë aansien in Europa geniet het en ’n produk is wat in elke huishouding gebruik word.”
Verlede jaar het Syngenta Saad se Yoom-tamatie met die louere weggestap. Dié tamatie verander van kleur van pers na swart, na gelang van die sonligure. Die hoë vitamiene-, mineraal- en antioksidantvlakke bly egter bestendig.
Syngenta Saad moes vanjaar met die derde plek tevrede wees vir iStem, ’n blomkool met verskillende systingels. Twee werknemers het so ’n blomkool in 2012 opgemerk en sedertdien het die maatskappy die kultivar ontwikkel, getoets en geproe. Die stam word sowat 13 cm lank en ontwikkel dan ’n kleiner steel met ’n aantal blare. Die stele is sag en smaak effens neuterig en soet. Die blomkool kan maklik in porsies gesny word en rou of gaar geniet word.
Vlieënde robot
Die Israelse maatskappy Tevel Advanced Technologies is met die silwer medalje huis toe vir sy vlieënde outonome robot. Dié robot kan tydens vlug individuele bessies uitwys. Dit word deur kunsmatige intelligensie-algoritmes en rekenaarvisie beheer. Die vernaamste funksie van die indrukwekkende robot is dat dit produsente in staat stel om presies te oes, deurdat die robot uitwys wanneer gewasse ryp is. Dit verminder ook die hoeveelheid werkers wat nodig is.
Fruit Logistica het verlede week (5-7 April) in Berlyn plaasgevind. Die toonaangewende groente-en-vrugteskou, wat gewoonlik in Februarie aangebied word, kon verlede jaar weens covid-19 nie voortgaan nie. Altesaam 40 000 besoekers uit 130 lande het die Berlyn Messe vanjaar besoek. Meer as 2 000 uitstallers uit 87 lande het deelgeneem.