
Die opwinding was tasbaar met die regstreekse aanlyn uitsending van die lansering gister van die SpaceX Transporter-6 van Cape Canaveral en die daaropvolgende suksesvolle ontplooiing van die Suid-Afrikaans vervaardigde EOS SAT-1-landbousatelliet in ’n wentelbaan om die aarde.
EOS SAT-1 is die eerste beeldsatelliet wat deur Dragonfly gebou is, die eerste mikrosatelliet wat sedert 2009 in Suid-Afrika vervaardig is, en sal uiteindelik deel vorm van die wêreld se eerste satellietkonstellasie wat hoëgehalte data verskaf om doeltreffende en volhoubare praktyke in die internasionale landbou- en bosbousektor te ondersteun. Dié konstellasie sal teen 2025 uit sewe satelliete bestaan.
EOS SAT-1 was een van 114 klein satelliete wat aan boord SpaceX se 70 meter hoë herbruikbare Falcon 9-wentelbaanvuurpyl gedra is. Dié satelliete wat deur verskeie maatskappye van reg oor die wêreld ontwikkel, besit en bedryf word, en wat vir verskillende take bedoel is, is met tussenposes in die ruimte ontplooi. Een uur 31 minute en 16 sekondes ná lansering en op ’n hoogte van 538 km was EOS SAT-1 die laaste satelliet wat ontplooi is.
SpaceX is deur die Suid-Afrikaans gebore entrepreneur mnr. Elon Musk gestig.
“Dit is ’n belangrike prestasie vir Dragonfly Aerospace en ons is verheug dat ons EOS SAT-1 in ’n wentelbaan ontplooi is. Dit was ’n ongelooflike gevoel om te sien hoe EOS SAT-1 die lanseerplatform verlaat en die volgende stap neem in sy reis om data te lewer wat belangrike omgewingsvoordele vir ons planeet sal inhou. Ons sien daarna uit om EOS Data Analytics te ondersteun om die volgende ses satelliete teen 2025 te lanseer,” sê mnr. Bryan Dean, medestigter en uitvoerende hoof van Dragonfly.
Met twee elektro-optiese DragonEye-beeldskeppers sal EOS SAT-1 panchromatiese en multispektrale beelde oor 11 spektrale bande en teen ’n resolusie van byna een meter oor ’n baan van 44 km lewer. Dit maak dit een van die doeltreffendste beeldsatelliete in ’n lae wentelbaan.
Beelde verkry vanaf EOS SAT-1 sal waardevolle inligting lewer vir oesmonitering, toedieningskartering, seisoenale beplanning en assesserings wat inligting soos grondvog, opbrengsvoorspelling en biomassavlakke ontleed. Hierdie data sal boere en bosbouers ondersteun met die vermindering van koolstofdioksiedvrystellings en met die ontwikkeling van volhoubare produksiemetodes.
Klik hier om na ’n opname van die Transporter-6-sending te kyk.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.