
EarthRanger, ’n elektroniese platform, word nou ingespan om beter insig te kry in die beweging van die bruinsprinkane, wat vanjaar reeds grootskaalse verwoesting in die Oos-Kaap tot volg gehad het, sê mnr. Günther Pretorius, bestuurder van ekonomie en natuurlike hulpbronne van Agri Oos-Kaap.
“Ons het die verslag-en-moniteringsinstrument Earth Ranger in ons beheerkamer ingesluit. Dit help met die aantekening van sprinkaanswerms en met die monitor en voorspelling van toekomstige uitbrekings.”
Die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbou-organisasie (VLO) het EarthRanger in 2020 gebruik om ’n rapporteringsplatform te skep vir die bekamping van die verwoestende woestynsprinkaanswerms in Ethiopië en Somalië.
Luidens EarthRanger (https://www.earthranger.com/) se webwerf was dit die eerste keer dat die VLO en lande georuimtelike stelsels gebruik het om sprinkane met vliegtuie te bekamp. Dit is baie doeltreffender om swerms te verminder en die verspreiding van die swerms – ook na ander vastelande – te stuit. Sodoende is voedselsekerheid van 34 miljoen mense beveilig en $1,5 miljard se verliese aan graan en melk voorkom.
Volgens Pretorius kan boere die gebied waar sprinkaanswerms voorkom by Agri Oos-Kaap aanmeld deur die GPS-koördinate van die waarneming aan te stuur. Agri Oos-Kaap se beheerkantoor teken dan die inligting aan op die EarthRanger-databasis. Die stadium waarin die swerm is kan ook aangeteken word. Agri Oos-Kaap kan die data gebruik om te voorspel waarheen die swerms beweeg.
Agri Oos-Kaap het onlangs die platform aan Agri SA bekend gestel vir moontlike gebruik in ander provinsies.
Groot swerms sprinkane het boere by Jansenville, Steytlerville, Klipplaat en Willowmore in Februarie en Maart oorweldig. Die swerms het daarna na Pearston en Somerset-Oos beweeg.
Die digtheid en grootte van die swerms was ongekend. Van die swerms was 50 ha tot 100 ha groot. In hierdie stadium is dit nie moontlik om te sê watter gebied die ergste geraak is nie.
Hoewel temperature begin daal, word swerms tans gewaar by Bedford, Adelaide, Paterson, Somerset-Oos, Alice, Keiskammahoek, Fort Beaufort, Middledrift en Stutterheim. Swerms beweeg ál verder oos.
Die Oos-Kaapse departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming het onlangs aangekondig dat ’n gesamentlike operasiesentrum onder leiding van die nasionale departement gevorm is. Die provinsiale departement is besig met ’n veldtog om boere in te lig oor die bruinsprinkaan en die bekamping daarvan.
Agri Oos-Kaap is deurlopend in kontak met die bestaande beheerspanne en help waar hy kan. Daarby word weeklikse vergaderings met die nasionale en provinsiale departement gehou om oplossings teen die uitbreking te soek.
Die nasionale departement van landbou is ingevolge die Wet op Landbouplae (Wet 36 van 1983) verantwoordelik vir die bekamping van sprinkaanuitbrekings.
Volgens Pretorius het die departement twee helikopters beskikbaar gestel om groot swerms te bespuit.
Die departement verskaf onder meer plaagdoder vir grond- en lugbespuiting, asook toerusting. Agri Oos-Kaap het die departement bygestaan met die aankoop van plaagdoders danksy Agri SA se ramphulpfonds.