
Aartappelpryse aan boere het die afgelope week verbeter nadat boere in Maart vanjaar swak pryse vir die gewas ontvang het, sê Aartappels SA.
“Ek het vandag R30,00 vir ‘n 10kg sakkie aartappels op die mark gekry, so ons pryse beweeg weer bietjie op,” vertel mnr. Ernst Yzel, voorsitter van Aartappels SA. Dit volg na boere in Maart en April vanjaar tussen R22,00 en R25,00 per sakkie 10kg gemiddelde aartappels verdien het.
Yzel meen die rede vir die styging is die swaar reën wat die afgelope weke oor groot dele van die noorde van die land uitgesak het. “In drie weke het die prys so gestyg, want die reën het baie ouens gekeer om hulle aartappels uit te haal, so die mark het weer begin leegloop.”
Laer pryse weens groter aanbod
Volgens Yzel is die lae pryse deur ‘n ooraanbod veroorsaak, wat ook aan die reën toegeskryf kan word.
“Weens die baie reën wat in Februarie en Maart geval het, is daar baie boere wat gewag het om hul aartappels uit te haal. Die oeste word toe omtrent gelyk uitgehaal, wat ‘n groter aanbod en swak pryse aan boere tot gevolg het. Vanjaar se groter aanplantings het natuurlik ook ‘n rol gespeel. ”
Die daling het volgens Yzel nie ‘n groot uitwerking op produsente se opbrengs gehad nie, aangesien dit slegs tydelik was.
Prysvooruitsigte vir die winter?
Yzel voorspel dat aartappelpryse aan produsente gedurende die winter tot sowat R25,00 per 10kg sakkie kan daal. “Na die reën sal die ouens nou weer kan oes, en dit sal die aanbod weer vergroot,” vertel hy. Hy sê ‘n prys van sowat R25,00 per 10kg sakkie stel aartappelprodusente in staat om steeds winsgewend te wees.
Hy meen dat verbruikers dié winter kan verwag om tussen R35,00 en R45,00 per 10kg sakkie aartappels te betaal .
7 Mei 2010