
Die erge ryp wat die Limpopo-vallei vroeër getref het, het sowat 2,5 miljoen 10kg sakkies aartappels verwoes, sê Aartappels SA.
Mnr. Ernst Yzel, voorsitter, sê die ryp wat tydens die middel van Junie vanjaar voorgekom het, het groot skade aan aartappels wat in Maart, April en Mei aangeplant is, aangerig.
“Die aartappels word normaalweg in Augustus, September en Oktober bemark. So ‘n gemiddelde verlies van sowat 1 miljoen sakkies gaan in dié drie maande ondervind word,” verduidelik Yzel.
Dubbele verliese vir boere
Intussen sê mnr. Jan Viljoen, voorsitter van die TLU SA in Limpopo, die ryp het gemiddeld 30% van die tamatie- en aartappel-oes in die Limpopo-vallei verwoes. Hy voorspel ‘n moeilike finansiële jaar vir boere wat geraak is, aangesien die groot reëns in April vanjaar ook groot skade aangerig het.
“Werkers, veral kontrakwerkers, loop ook die risiko om hul werk te verloor omdat boere groot verliese gely het,” sê Viljoen.
“Ondanks die hoë pryse wat boere nou op markte sal haal, gaan dit nie hul winste opjaag nie want hulle het vanjaar dubbele verliese met die ryp en die baie reën gely,” verduidelik hy.
Hoë pryse vir verbuikers
Volgens Viljoen is die land se wintermark-groentemandjie in die Limpopo-vallei geleë, en verwag hy hoë pryse aan verbruikers weens die kleiner aanbod van tamaties en aartappels.
“Pryse van beide dié produkte is sensitief vir vraag en aanbod, en ons sien klaar dat die pryse van tamaties klim.”
Normalisering in November
Viljoen verwag dat die situasie rondom vraag en aanbod, en moontlik ook pryse aan verbruikers, teen November vanjaar sal stabiliseer. Hy sê die meeste produsente het reeds weer die twee gewasse aangeplant. “Maar ‘n siklus van 120 dae moet verloop vandat ‘n aartappel geplant is totdat dit ge-oes kan word. So die nuwe oes sal eers oor vier maande reg wees.”
Luidens ‘n berig van The Herald sê mnr. Kenny Mathivha, woordvoerder vir die provinsiale departement van landbou, amptenare sal plase wat geraak is binnekort besoek om die skade na te gaan en te bepaal hoe boere gehelp kan word.
27 Julie 2010