
Die aartappelwerkgroepe waarmee Aartappels SA (ASA) veral navorsing oor aartappelkultivars doen en waarby boere betrokke is, is ‘n unieke stelsel.
“Tussen 80% en 90% van die kostes verbonde aan die aartappelwerkgroepe word deur boere gedra, en dit – saam met baie ander faktore – maak die navorsing in veral aartappelkultivars eiesoortig in die wêreld,” sê mnr. Ernst Yzel, voorsitter.
Mnr. Gert Bester, ‘n produsent van Petrus Steyn en voorsitter van ASA se navorsingskomitee, sê die projek se koste beloop R400 000. “As ons dit in die bedryf sou uitkontrakteer sal dit sowat R1,9 miljoen kos.”
“Boere glo boere”
Bester sê die projek is so uniek omdat boere saam met kundiges hulle insette kan lewer en resultate kan sien en aanteken. “En boere glo boere, dis die lekker van dié projek.”
Negentien proefpersele word in 13 produksiegebiede in die land bedryf. Bester sê 28 kultivarproewe word op dié persele nagegaan.
“Die boere staan ook hul eie werkmag af, soms vir dae aaneen, om dié aartappels per hand aan te plant of te oes. Dit is buiten die grond wat die boere bereid is om aan die navorsing af te staan.”
Bekendstelling van nuwe kultivars
Bester sê verskeie nuwe aartappelkultivars het al goeie groei- en produksieresultate getoon, en ASA poog om nuwe kultivars aan die mark bekend te stel.
“Veral met die uitdagings wat verwerkers tans ondervind om aartappelkultivars op te spoor wat aan verbruikers se soms baie hoë standaarde voldoen. Ons probeer ook om rooi variëteite soos die Mozart-kultivar in die mark in te kry,” vertel hy.
Mnr. Gert Bester sny 'n rooi Mozart-aartappel oop. Foto: ALANI JANEKE
Volgens Bester is Mondail die kultivar wat die meeste in die land verbou word. “Mondail beslaan sowat 70% van aanplantings. Dit het in die laaste vyf jaar van 30% na 70% gegroei. Die ander twee gewilde kultivars is ‘BP1’ en ‘Up-to-date’,” verduidelik hy.
10 Mei 2010