
Aartappels SA (ASA) bestempel smouse as die juwele van die aartappelbedryf. Luidens ‘n verklaring van dié organisasie is ‘n derde van tafel-aartappels wat in die 2008/’09-geldjaar verkoop is, deur smouse verkoop. Dit is een van die redes waarom ASA se veldtog - die Smous Akademie - in samewerking met die Tshwane Varsproduktemark, van stapel stuur.
ASA wil deur middel van die veldtog smouse oplei en help om hulle sakevernuf te verbeter. Hulle meen ook dat die veldtog tot die beperking van armoede kan bydra. Bemarking van aartappels en die verskaffing van inligting oor die voedsaamheid van aartappels is ook van die doelwitte van die projek.
Beskikbaar en gerieflik
Die feit dat verbruikers deesdae baie ingestel is op gerieflikheid en beskikbaarheid van produkte is een van die groot redes, meen ASA, vir die smousbedryf se gunstige toestand. Die organisasie het derhalwe besluit om hom op smouse toe te spits om verbruikers in te lig en aartappels meer geredelik aan hulle beskikbaar te stel.
Mnr. Mark du Plessis, hoof uitvoerende beampte van ASA, sê: “ Een van die grootste dryfvere agter die verkope en verbruik van vars aartappels in Suid-Afrika is sekerlik smoushandel. Ons sal uit ons pad gaan om hulle te bemagtig en hulle aandeel in die bemarking van vars aartappels te bespoedig. Projekte soos die Smous Akademie sal een van die aktiwiteite wees waarmee ons dit wil bereik.”
Die projek sal ook saam met drie ander varsproduktemarkte onderneem word, nl. Die Johannesburg Varsproduktemark, die Kaapstad Varsproduktemark en die Durban Varsproduktemark.
24 Februarie 2010