
Inskrywings van wyne en brandewyne vir dié jaar se gesogte Veritas-toekennings sluit binnekort.
Luidens ’n verklaring sluit inskrywings op 10 Augustus. Laat inskrywings sal teen ’n hoër inskrywingsfooi tot 18 Augustus aanvaar word. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) bied jaarliks dié kompetisie aan.
Die kompetisie is in die wynbedryf bekend vir sy hoë standaarde wat aan sy wenners ’n sekere mate van gesag in die plaaslike en internasionale mark besorg.
Mnr. Frans Smit, ’n wynmaker by die Spier-wynlandgoed, sê die vlak van strengheid en die intensiewe mate waarop die wyne beoordeel word, maak dié ’n indrukwekkende kompetisie. Spier het by die 2010-toekennings vyf dubbelgoud-toekennings en twee goud-toekennings verower. Lees die storie hier.
Brandewyne
Brandewyne het verlede jaar hul debuut in die kompetisie gemaak. Brandewynstokers word die jaar aangemoedig om ook vir een van die dubbelgoud, goud, silwer of brons medaljes mee te ding.
Verlede jaar se wenner, Van Ryn’s Landgoed, sê die toekenning speel ’n belangrike rol ten opsigte van die bewusmaking van die publiek. Die landgoed het verlede jaar twee dubbelgoue en twee goue medaljes ontvang.
Mnr. Simon Dicks, ’n woordvoerder vir Van Ryn’s sê: “Die bekendheid van die Veritas-etiket op die wenbottel beïnvloed beslis die denkpatroon en kopersgedrag van die verbruiker en hiervoor is ons dankbaar.”
1700 inskrywings
Die organiseerders verwag dat sowat 1700 wyne en brandewyne vanjaar vir die kompetisie ingeskryf sal word. Die beoordeling vind van 5 tot 8 September by die Nederburg-veilingskompleks plaas. Die wenners word op 8 Oktober aangekondig.
Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar by www.veritas.co.za, asook by die SANWSV se kantore.
Lees ook: Nederburg blink uit by Veritas
11 Julie 2011