
Sedert Aartappel Suid-Afrika (ASA) se Smous-projek in 2010 aangepak het, het 51 nuwe smouse begin om aartappels in hul stalletjies by, byvoorbeeld, taxi-staanplekke te verkoop. Altesame 23 taxi-staanplekke of punte waar mense daagliks bymekaar kom om van openbare vervoer gebruik te maak, is in die projek uitgesonder.
Mnr. Brendan Powell, direkteur van Isilumko Media, sê ’n kompetisie vir smouse is begin dat as sy of haar stalletjie geïdentifiseer word as een wat aartappels verkoop, dit vir verbetering gekies kan word.
“Tans het ons 163 smouse wat op 23 van die land se besigste plekke aartappels verkoop aan mense wat openbare vervoer gebruik,” vertel Powell.
Toename
Die projek is aangepak nadat dit duidelik geword het dat ’n groot deel van Suid-Afrika se aartappels deur informele handelaars verkoop word. Die land het tans sowat 750 000 informele handelaars wat Spaza-winkels, stalletjies of sjebiens bedryf.
Sowat 33% van alle tafelaartappels in Suid-Afrika word op varsproduktemarkte verkoop, terwyl 50% deur informele handelaars verkoop word.
Powell sê 57% van Suid-Afrikaners gebruik daagliks ’n vorm van openbare vervoer, en hulle moet seker maak dat aartappels geredelik op dié plekke beskikbaar is. Die projek het sowat 600 000 mense al bereik om hulle oor die voedingswaarde van die gewas in te lig.