
Terwyl ’n oes van 78 000 ton bemarkbare rosyne vir die huidige bemarkingsjaar verwag word, het me. Mase Manopole, Noord-Kaapse LUR vir landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, onlangs na Pella gereis om na die bedrywighede te kyk.
Die bedryf is jaarliks R2 miljard werd. Vanjaar het bogemiddelde reën in die gebied die droogproses benadeel. Sommige wingerde is weens vloede in die Oranjerivier oorspoel. Verlede seisoen het ongunstige weerstoestande die oes met 16% laat daal.
Volgens mnr. Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement, werk meer as 30 000 mense heeltyds in die rosyntjiebedryf in die Benede-Oranjerivier. Wanneer rosyne gedroog word, word nog 30 000 tot 35 000 seisoenale werkers in diens geneem. Die inkomste kring uit na 150 000 individue wanneer bereken word dat die gemiddelde huishouding uit vyf mense bestaan.
“Die LUR het vandeesweek wingerdprojekte wat deur die provinsiale regering gefinansier word, besoek. Die projekte is die Richtersveld-gemeenskapseienaarsvereniging, die Pella-besproeiingsprojek, Onseepkans-besproeiingsontwikkelingsprojek, Voordekop, Bloecosso en Eksteenskuil, om net ’n paar te noem. Dit het saam oor die jare heen meer R500 miljoen aan staatsondersteuning ontvang.”
Manopole wou ook vasstel of die geld wat die regering belê het, goed aangewend is. “Die produsente het probleme, maar hulle word deur ons distriksbestuurders en voorligtingsbeamptes bygestaan,” sê sy. “Ons moet vaardigheidsontwikkeling verskerp, sodat die boerderye meer soos goed-geoliede masjinerie loop.”
Sy was tevrede met van die projekte wat aansienlik gegroei het.
“Die departement het in die 2013-’14-seisoen in vennootskap met Raisins South Africa ’n rosyntjieontwikkelingsprojek van 200 ha op Eksteenskuil begin. Dit het aansienlike volumegroei van vorige produksievlakke van 800 ton meegebring tot vlakke wat nou 2 000 ton oorskry.”
Die gemeenskap verdien jaarliks ongeveer R45 miljoen, vergeleke met R15 miljoen in 2013-’14-boekjaar.
Volgens mnr. Ferdie Botha, uitvoerende hoof van Raisins South Africa, het die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf oor die afgelope agt jaar verdubbel danksy die bydrae van die Benede-Oranjeriviervallei. Die tonnemate het van 40 000 ton in die 2011-’12-seisoen tot 85 000 ton in die 2019-’20-seisoen gegroei en sal na verwagting tot 100 000 ton in die 2023-’24-seisoen groei. Dit is as gevolg van verbeterde produksie.
“Markontwikkeling en -toegang is die strategiese prioriteite vir die rosyntjiebedryf om te verseker dat markte groei namate produksie toeneem. Raisins SA het bemarkingsveldtogte in Brittanje, Duitsland, Frankryk en Suid-Afrika. Wêreldwye bewustheid van gesonder lewenstyle is met die covid-19 -pandemie versterk. Dié globale verbruiksneigings bied ’n geleentheid om rosyntjieverbruik in die volgende dekade te laat groei. Rosyne is ’n gesonde peuselhappie en ’n veelsydige produk wat in ’n wye verskeidenheid voedselprodukte as ’n natuurlike versoeter gebruik kan word. Dit is ’n bekostigbare produk wat op natuurlike wyse gedroog word en lank hou.”
Die Oranjerivier het hoog gevloei in Januarie 2022 as gevolg van bogemiddelde reënval stroomop in die Vaal- en Oranje-opvangsgebied. Die hoë vloeivlakke het 2% tot 3% van die totale hektaar wingerd nadelig beïnvloed, maar watervlakke het sedertdien afgeneem. Die bogemiddelde reën einde Januarie het egter die produksie van rosyne benadeel, veral op Eksteenskuil.
“Aan die begin van die lente was daar geringe skade weens ryp en hael. Tans sien ons nie die noodsaaklikheid om die oesskatting te verlaag nie. ’n Lang oes- en droogtydperk lê nog voor. Die finale produklewering eindig gewoonlik teen einde April,” sê Botha.
Die internasionale vraag- en aanbodbalans staan op 1,3 miljoen ton. “Turkye is die grootste rosynproduserende land met ongeveer 300 000 ton per jaar. Amerika het die mark voorheen oorheers, maar het sedert die vroeë 2000’s produksie van 350 000 ton tot 200 000 ton verminder. Ons produseer 7% van wêreldproduksie, maar speel ’n groot rol in globale uitvoer. Sowat 90% van ons produksie is vir internasionale markte bestem, terwyl die EU sowat 51% van dié markaandeel het.”