Hoewel Australië 'n rekord-wyndruifoes verwag, sal goeie pryse verbruikers steeds verlei om eerder 'n Suid-Afrikaanse bottel wyn van die rak te haal.
Die Australiese nuuswebwerf ABC Online berig Nieu-Suid Wallis se Suidkus-wingerde dra 'n uiters belowende oes. Die Shoalhaven-streek is een van 95 wynstreke in Australië. Hoewel die oesproses eers middel-Februarie begin, lyk beide die gehalte en volume van die druiwe uitstekend.
Die Australiese wyndruifoes het soos die meeste landboubedrywighede in dié land die afgelope paar jaar gebuk gegaan onder 'n vernietigende droogte. Dit het aan Suid-Afrikaanse wynuitvoere 'n hupstoot gegee.
Volgens mnr. André Morgenthal, kommunikasiebestuurder by Wosa, tel die wisselkoers in Suid-Afrikaanse produsente se guns. "Ons kan wyn teen 'n baie goeie prys op die rakke sit. Dit geld nie net vir intree-prysvlakke nie, maar ook vir medium- tot duur wyne."
21 Januarie 2009