Een van die strewes met avokadonavorsing in Suid-Afrika is die produksie van uitvoervrugte deur die hele jaar heen. Om dít te vermag, sal egter nog baie werk in verband met die ontwikkeling van geskikte kultivars en onderstamme gedoen moet word.
Volgens dr. Stefan Köhne, bestuurder: navorsing en ontwikkeling van die Merensky Tegnologiese Dienste (MTD) naby Duiwelskloof, is die grootste vraag na avokado's uit Europa na die kultivar Hass, en in mindere mate na Fuerte. In jare met baie vrugte verdien boere heelwat meer met hul Fuerte as met Hass.
Dit is een van die redes waarom MTD sy aandag die afgelope paar jaar op die ontwikkeling en/of verbetering van die Hass-soort kultivars gevestig het. 'n Hoogtepunt die afgelope paar jaar is die evaluering en vrystelling van Lamb Hass, wat 'n laatseisoen-Hass-soort is.
Boere sal op die kort tot mediumtermyn finansieel veel beter vaar as Fuerte vervang kan word met 'n vroeë Hass-soort wat in die Fuerte-seisoen uitgevoer kan word, sê dr. Köhne.
Me. Sylvie Kremer-Köhne, tuinbounavorser van MTD, sê nuwe en geskikter kultivars alleen sal nie tot hul volle vermoë ontwikkel as beter aangepaste onderstamme nie geselekteer word nie. Die onderstam Duke 7 word al dekades lank in die avokadobedryf gebruik, maar een van die probleme is dié onderstam se sensitiwiteit vir versuiptoestande en die gevolglike vatbaarheid vir wortelvrot (Phytophthora ).
Dit is die vernaamste rede waarom belowende onderstamme in die vroeë jare tagtig op die Westfalia-Landgoed geselekteer en in proewe opgeneem is. Twee van dié onderstamme, Merensky 1 en Merensky 2, het aanvanklik in veld- en kweekhuis-proewe soveel belofte van weerstand teen Phythophthora getoon, dat dit later plaaslik en in Kalifornië in Amerika in proefboorde geplant is.
Me. Kremer-Köhne sê die grond waarop die plaaslike proefboord in 1998 op Westfalia-Landgoed gevestig is, is bekend vir die hoë voorkoms van wortelvrot en geen behandeling is toegelaat nie. Die kultivar Hass op die onderstamme Merensky 2, Merensky 3, V100 ('n saailingseleksie) en Duke 7, asook Edranol-saailinge, is in dié proef vergelyk.
Wat boomtoestand betref, het die Hass op die Merensky-onderstamme met die evaluering verlede jaar by verre die beste vertoon, gevolg deur V100, Duke 7 en dan die Edranol-saalinge. Merensky 2 en 3 het in 2001 onderskeidelik 8,5 kg per boom en 8,7 kg per boom gelewer, terwyl V100 met 10,7 kg per boom die beste gevaar het. Van die Duke 7 en die Edranol-saailinge is onderskeidelik 2,9 kg per boom en 3,4 kg per boom gepluk.
Die departement plantpatologie aan die Riverside-universiteit in Kalifornië het die Merensky 1- en Merensky 2-onderstamme in uitgebreide proewe ingesluit. In die een proef (tien jaar oud) aan Kalifornië se suidkus met lae wortelvrotdruk, het Merensky 2 die beste opbrengs van 46 klonale onderstamme gelewer.
In nog 'n proef (drie jaar oud) wat by Carpinteria op brak grond met swaar wortelvrotdruk gevestig is, het Merensky 2 wéér die beste gevaar. Dit het selfs beter gevaar as 'n onderstam uit Israel wat veronderstel is om ook in brak grond te gedy. In 'n proef (drie jaar oud) wat by Escondido op grond met 'n hoë wortelvrotdruk gevestig is, het Merensky 1 die heel beste en Merensky 2 die naasbeste gevaar.
Volgens navorsers van die Riverside-universiteit vaar Merensky 1 en 2 aansienlik beter as Thomas, Kalifornië se standaard-onderstam wat weerstand teen wortelvrot bied. Die Merensky-onderstamme is ingesluit by nuwe proewe wat verlede jaar gevestig is.
Die Merensky 1- en Merensky 2-onderstamme is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAKV) vrygestel. Dié onderstamme word deur planttelersregte beskerm en die willekeurige vermeerdering daarvan is dus onwettig. Boompies wat vir die plantseisoen 2003/4 gevestig sal kan word, kan by die Westfalia-Kwekery naby Duiwelskloof bestel word, sê me. Kremer-Köhne.