
Die dae dat daar van opkomende boere gepraat word, is op ’n einde. Almal wat wil boer, wil dit tog kommersieel doen, al is dit nog nie op die skaal van megaboere nie.
Dit was die onderliggende tema van die sambreelliggaam vir subtropiese gewasse, Subtrop, se onlangse transformasieberaad op Tzaneen.
In dié gees het Allesbeste Kwekery van Tzaneen 20 000 avokadobome aan Subtrop se transformasiewerkgroep geskenk.
Dit was een van wyle dr. André Ernst van Allesbeste se ideale om deur sy kwekery op ’n sinvolle wyse tot transformasie van die avokadobedryf by te dra.
Kort voor sy dood in 2021 het hy nog met mnr. Nomvuyo Matlala daaroor gesels. Matlala, tegniese adviseur vir opkomende boere by Subtrop, is nou betrokke by die herontwikkeling van die ou tee- en koffieplantasies in Venda. Met ’n goeie kennis van avokadoproduksie het Matlala vir Ernst genader om avokadobome vir dié projek aan te koop.
“My pa was dadelik te vinde daarvoor,” sê sy seun Zander. “Dit was die tipe projek waarna hy op soek was, maar omdat ons weet avokadobome is ’n groot deel van ’n nuwe boerdery se uitgawes, het ons gevra dat Matlala vir ons foto’s stuur van die grond waar hulle die bome wou vestig. Ons wou seker maak die bome word in goeie grond geplant.
“Toe die foto’s kom, was ons verstom oor die goeie grond waarin die bome geplant sou word.”
Dit was van die begin af André se siening dat Allesbeste nie net nog ’n wit vennoot in ’n bemagtigingsprojek moes word nie, maar dat ruimte vir welvaartskepping onder nuwe boere gegee word. Die vraag was hoe dit gedoen kan word.
Die antwoord het in Venda se ou tee- en koffieplantasies gelê en in die mense wat daar wou boer. Hulle was van die begin af bereid om vir hul bome te betaal, wat die deur oopgemaak het vir ’n transaksie waarin almal wen.
Allesbeste het besluit om die bome aan die transformasiewerkgroep te skenk, wat op sy beurt 1 000 bome aan elkeen van 20 top- nuwe boere beskikbaar te maak.
Allesbeste sal deur die SA Avokadokwekersvereniging betrokke wees by mentorskap vir hierdie boere. Die grootste bonus is dat die 20 nuwe boere dan, wanneer hul bome in produksie kom, dit saam met Allesbeste kan bemark deur die bemarkingsmaatskappy Avor, wat Allesbeste saam met sy vennote in Nederland bedryf.