
Die Sauvignon blanc-koning van Walkerbaai, mnr. Bartho Eksteen, kan nou die gesogte titel van Diners’ Club Wynmaker van die Jaar agter sy naam skryf nadat dié glorieryke toekenning die naweek by die Asara-landgoed aan hom toegeken is. Die Diners Club Jong Wynmaker van die Jaar is mnr. RJ Botha van Nitida-wynkelder by Durbanville.
Eksteen, van die kelder Hermanuspietersfontein naby Hermanus, is die dertigste wynmaker wat dié eer te beurt val en Botha die tiende jong wynmaker.
Kollig op Sauvignon blanc
‘n Spesifieke kultivar kom jaarliks aan die beurt, en vanjaar het die kollig op Sauvignon blanc geval. Die jong wynkmakers is beoordeel volgens hul ongefortifiseerde droë rooikultivar- of versnitwyne.
Eksteen maak geruime tyd al opslae met sy besonderse Sauvignon blanc-wyne. Sy gehoute Sauvignon blanc, die 2009 Hermanuspietersfontein No. 5, het die knoop vir hom deurgehak. Dit is in beide nuwe, tweede- en derdevul Franse eikehoutvate verouder. Mnr. Dave Hughes, voorsitter van die beoordelaarspaneel, meen die wyn is “perfek gebalanseerd”.
“Die 15% Semillon-komponent voeg ‘n ekstra lagie by die kombinasie van hout en vrugte. Dit is ‘n styl wat toenemend gewild raak onder Suid-Afrikaanse wynliefhebbers.”
Volgens mnr. Ebrahim Eksteen, Diners Club se besturende direkteur, is dié kompetisie een van die oudstes in Suid-Afrika. Wat dit uniek maak, is dat dit een van die min is wat ‘n wynmaker, en nie ‘n wyn nie, bekroon.
Verhoog standaarde
“Die kompetisie verhoog standaarde en stel wynmakers voorop,” sê Matthews
Eksteen sluit hom nou aan by die geledere van wynmakers soos Pieter Ferreira van Graham Beck, Carl Schultz van Hartenberg, Sydney Back van Backsberg en Danie de Wet van De Wetshof.
Ferreira, wat in 2004 gewen het, meen dié toekenning is lewensveranderend. Schultz, die 2005-wenner, sê Hartenberg se omset het betekenisvol toegeneem sedert sy sege.
Ook Eksteen het dit as sy belangrikste toekenning tot nog toe bestempel.
30 November 2010