
Die wynbedryf is opgewonde oor die komende Cape Wine-handelsuitstalling wat vanjaar in Kaapstad plaasvind, sê Wosa.
Luidens ’n verklaring het die uitstalling reeds die ondersteuning van twee derdes van die land se wynmakers ontvang. Verskeie groot maatskappye, onafhanklike en kleinskaalse wynmakers het reeds hul deelname bevestig.
Die uitstalling bied aan die plaaslike bedryf die geleentheid om hul produkte en die vordering aan internasionale wynkopers, restaurant-eienaars, sommeliers en die media bekend te stel.
Dit word al om die ander jaar aangebied. Me. Su Birch, Wosa se uitvoerende hoof, sê hulle het in 2010 wel van die twee-jaar-siklus afgewyk as gevolg van die Fifa-wêreldbeker.
Buitelandse belangstelling
Birch sê afgevaardigdes van oral in Europa, Brittanje, Noord-Amerika, Afrika, Latyns-Amerika, Hongkong, China en Japan het reeds aangedui dat hulle dit gaan bywoon. “Ons is veral opgewonde omdat die reaksie van Asië en Afrika veel beter as ooit tevore is.”
Volgens Birch sal die uitstalling ’n oorsig bied van die geweldige vordering met die maak en bemarking van wyn sedert die Suid-Afrikaanse mark 20 jaar gelede vir die wêreld toeganklik geword het.
“Benewens die aanbieding van ’n groot verskeidenheid proegeleenthede, seminare en werksessies, gaan die program die klem lê op veranderings in wynstyle, produsente se reaksie op klimaatsverandering en die bestuur van skaars natuurlike hulpbronne, asook die beskerming van ou wingerde as deel van die bedryf se erfenis,” vertel Birch.
Belangstelling
Besoekers en uitstallers toon glo ses maande voor die tentoonstelling reeds groot belangstelling en Birch meen dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word. Een daarvan is dat Cape Wine reeds ’n “stewige reputasie” as ’n toonaangewende handelsuitstalling bewerkstellig het.
“Van die vooraanstaande afgevaardigdes meen ons vorige uitstallings was van die mees geslaagde in die Suidelike Halfrond wat aanbieding en logistiek betref. Ondanks sy betreklik kort betrokkenheid by internasionale wynmarkte, het Suid-Afrika hom reeds onderskei wat betref gehalte en sy baanbrekersinisiatiewe om eko-volhoubaarheid te bevorder,” aldus Birch.
Vindaba, ’n tentoonstelling van die land se wyntoerisme-aanbiedinge, sal terselfdertyd in die konferensiesentrum aangebied word sodat besoekers aan alle aspekte van die land se wynbedryf bekend gestel kan word.
Cape Wine 2012 sal van 25 tot 27 September 2012 in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangebied word.
3 April 2012