
’n Nuwe toekoms wag op die bekroonde Waverley Hills Organic Wine & Olive Farm in die Wes-Kaapse distrik Wolseley. Dit is onlangs verkry deur die maatskappy Beverage Network South-Africa (BNSA), wat ’n vennootskap is tussen die besturende direkteur, me. Lynnqwinda Scott, en bedryfsdirekteur, mnr. Kershan Moodley.
Die twee vertel Landbou.com dat hulle albei uit ’n sterk korporatiewe agtergrond kom en dat hul gesinne die afgelope 20 jaar by Suid-Afrika se wyn- en drankbedryf betrokke is.
Hulle verduidelik dat Waverley Hills deur die Du Toit-familie gestig is en oor die jare verskeie toekennings vir sy organiese wyne ontvang het.
“Waverley Hills het ’n reeks gewaardeerde wyne, jare lange familiebesigheidswaardes en innoverende ontwikkelings tot een van die wêreld se bekendste wynproduksiestreke gevestig. Ons is uiters trots om hul stories en ryk geskiedenis te deel,” sê Moodley.
Scott wys daarop dat die besit van ’n wynplaas ’n jare lange droom was. Waverley Hills voldoen aan die reeks streng vereistes wat BNSA gestel het.
Sy sê noemenswaardige aspekte van hierdie plaas sluit in dat sowat 80% van sy wingerde uit die rooiwynkultivars Cabernet sauvignon, Shiraz en Merlot bestaan. Die res van sy wingerde bevat die rooiwynkultivars Grenache noir, Mourvèdre, Pinotage en Marselan, en die witwynkultivars Sémillon, Sauvignon blanc, Chardonnay, Pinot grigio en Viognier.
“Ons is tans die enigste wynplaas in Suid-Afrika wat Marselan botteleer. Ons wynmaker, mnr. Johan Delport, het die eerste Marselan in Suid-Afrika geplant. Hy is ook bekend as die peetvader van Grenache noir in Suid-Afrika. Hy was die eerste in Suid-Afrika wat ’n 100% Grenache noir-wyn gemaak het en Waverley Hills het die heel eerste ware Franse styl rosé uitgereik,” sê Scott.
Sy en Moodley sê groot planne vir Waverley Hills, via BNSA, sluit in die uitbreiding van sy wyn- en olywereeks vir plaaslike en internasionale markte en om sy uitvoer te verhoog. Hulle beoog ook om voort te bou op hul plaas se bestaande bewaringsbedrywighede en -bewusmakingsveldtog in vennootskap met die WWF-organisasie. Daar sal ook in Februarie vanjaar ’n nuwe bistro op die plaas oopmaak.
Die twee sê organiese wyn het ’n massiewe neiging nasionaal en internasionaal geword. “Ons wil hê dat Waverley Hills ’n gesogte Suid-Afrikaanse wynervaringbestemming moet wees. Ons wil ook lewens verryk en ons plaaslike gemeenskap ondersteun.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.