Hoewel die laaste seisoen in die
algemeen redelik gunstig vir die
tafeldruif- en rosyntjiebedryf in
die Benede-Oranjeriviergebied
was, het dié bedrywe 'n paar moeilike seisoene
agter die rugwat groot druk op boere
se winsgewendheid geplaas het.
Weens die groot afstande in die streek
is inset- en vervoerkoste daar hoër as in
enige ander druif-produserende streek in
die land. Vasgestelde lone en dikwels lae
produktiwiteit verhoog arbeidskoste en
veranderinge in die wisselkoers skep allerlei
probleme.
Prof. Daan Louw van OptimaleAgri Besigheidstelsels
(OABS) in die Paarl het op 'n
inligtingsdag wat deur die SAWingerd- en
Wynvereniging (SAWWV) naby Upington
gehou is, gesê dit maak die risiko vir boere
in die Benede-Oranjerivierstreek aansienlik
groter as in die Hex- of Bergrivierstreek.
Daarom is die streek soveel meer kwesbaar
vir prysdruk op tafeldruiwe as die res van
die land se produksiegebiede.
Voeg daarby veranderende verbruikersvoorkeure waarby
die boer teen groot koste
moet aanpas, immer stygende verpakkingskoste
en die feit dat die internasionale
speelveld geweldig verander het. Dan kan
besef word waarom boere dikwels wonder
of hulle werklik nog 'n bestaan kan maak.
In 2005/'06 het dit gemiddeld R40 tot R42
gekos om 'n boks druiwe uit die Oranjeriviergebied
in die Kaapse hawe afgelewer
te kry. In die 2006/'07-seisoen het die koste
met tot 25% toegeneem, wat weerspieël
hoe vinnig koste binne die bestek van een
seisoen kan verander. Boere loop gedurig
geweldige risiko's,meen Louw.
Daarom is dit so belangrik dat boere in
veral die Benede-Oranjeriviergebied - maar
inderwaarheid oral - presies moet kan bepaal
of hulle wel winsgewend boer of nie.
'n Boer moet weet waar sy gelykspeelpunt
is, want daarsonder kan hy nie behoorlik
beplan nie. Vergeleke met die vorige twee
seisoene verbeter die gelykspeelpunt per
hektaar in die Benede-Oranjeriviergebied.
Louw sê kernfaktore wat die winsgewendheid
van 'n boerdery beïnvloed, is gewas-
en kultivarkeuses, finansiële bestuur,
bemarkingsbestuur, die gebruik van gehuurde
bestuur, arbeidsbestuur, kapitaalbeleggings
en vervangingsbeleid.
Aan die produksiekostekant is dit duidelik
dat, hoewel dit tussen 2002 en 2005
afgeplat het, die situasie sedert 2005 weer
aan die verander is. Produksiekoste neem
toe weens 'n wisselende en swakker rand.
Sedert 2000 het die algemene produksie-indeks
met meer as 60 % toegeneem, wat ver
bo die inflasiekoers is.
Dit is deel van die probleem, want produksiepryse
het beslis nie met 60 % of selfs
daar naby gestyg nie, meen Louw. Dit vererger
die kosteknyptangeffek.
Arbeidskoste beloop gemiddeld 35%
tot 45% van 'n vrugteplaas se bedryfskoste.
Sedert 2003 het arbeidskoste jaarliks met
tussen 9,8% en 12,6% gestyg, wat aansienlik
hoër as die inflasiekoers is. Dit maak die
Suid-Afrikaanse boer internasionaal onmededingend.
Wat kan gedoen word?
Louw sê arbeidsproduktiwiteit en -doeltreffendheid moet verbeter word. 'n Gelukkige
en gemotiveerde werker beteken
arbeidsdoeltreffendheid. Dit word moontlik
gemaak deur goeie verblytoestande,
'n redelike kontantvergoeding, opleiding,
goeie kommunikasie, wedersydse respek,
aansporingsmaatreëls, regverdigheid en
aandeelhouding (SEB).
Wat wisselkoerse betref, is dit 'n risiko
wat nie sal verander nie, want dit is deel
van die vryemarkstelsel. Wat wel bestuur
kan word, is doeltreffendheid in die boerdery
deur koste so laag moontlik te hou
en hoë produksie (bokse/ha) na te streef
met behoud van gehalte. Nog iets waaraan
boere meer aandag kan gee, is om op die
hoogte te bly van monetêre opsies en neigings
wêreldwyd, sodat seker gemaak kan
word dat uitvoeragente onder meer wisselkoersverskansing
kan bied.
Louw sê die boer kry maar sowat 8%
van die bruto waarde van sy produk in die
tafeldruifketting, en selde meer as 14% in
die laaste agt jaar.Maar die boer se produksiekoste
maak 49% van die totale koste in
die ketting uit om tafeldruiwe tot by die
verbruiker te kry. "Dit is tyd dat die boer
homself afvra of hy tevrede daarmee is om
50% van alle koste te dra!"
Die enigste wyse om meer betrokke by
die ander 51% van die kosteketting te raak,
is by die bemarking van die produk. Daarom is
dit belangrik dat die bemarker wat hy
gebruik, totaal deursigtig moet wees wat
koste betref.
Hy sê die gehalte en grootte van druiwekorrels
is die beste ammunisie teen mededinging
vir die boer. Gehalte is ononderhandelbaar,
maar almal besef nie altyd daar
is 'n aansienlike prysverskil tussen trosse
met groot korrels en dié met ekstra-groot
korrels nie.
Die tradisionele Europese markte word
minder belangrik vir Suid-Afrikaanse boere
omdat meer vrugte gelewer word aan
nuwe markte, waaronder China en ander
Oosterse lande. Die winsgewendheid van
Suid-Afrikaanse tafeldruiwe sal in die toekoms
bepaalword deur die vermoë van die
plaaslike boere om tafeldruiwe na nuwe
markte, soos China en Indië, uit te voer.
Ryk lande bestee jaarliks tot sowat R577
miljard ($84 miljard) aan subsidies aan hul
boere - bykans net soveel as wat hulpverlening
aan lande in die Derde Wêreld beloop.
Dit druk produkpryse af en ontwikkelende
lande, soos Suid-Afrika, word ondermyn
op oorsese markte. Wat die landbou betref,
is Suid-Afrika een van die laags gesubsidieerde
lande ter wêreld, en alle aanduidings
is dat dit nie gou gaan verander nie. Daar
sal bloot daarmee saamgeleefmoet word.
Louw meen die groot subsidies wat in
lande in die Noordelike Halfrond betaal
word, maak dit vir lande in die Suidelike
Halfrond moeilik om mededingend
te wees. As na die produsent-ondersteuningsekwivalentindeks
(PSE) gekyk word,
lê Suid-Afrika maar op 5% teenoor byvoorbeeld
die 73% van Switserland, 71%
van Noorweë en 58% van Japan. Selfs die
Europese Unie het 'n PSE van 34%. Dit
sluit regstreekse subsidies aan die landbou
asook onregstreekse subsidiëring, soos ondersteuningstariewe,
in.
Thomson Pitloos is steeds die gewildste
kultivar in die Oranjeriviergebied, het
Louw gesê. Die 3 569 ha wat in 1997 onder
dié kultivarwas, het toegeneemtot 6 732 ha
in 2006. Sugraone lê nou tweede met 1 206
ha, maar die neiging is al meer in die rigting
van Prime en Flame Pitloos,wat onderskeidelik
reeds 782 ha en 646 ha beslaan. In
2006 was altesaam 11 138 ha in die streek
onder wingerd teenoor 4 619 ha in 1997.
Verder plaas die kwessie van aardverwarming
en die klem op die koolstofspoor
(die hoeveelheid koolstofdioksied wat gepaardgaan
met die produksie en
vervoer van 'n produk) verdere
druk op die Noord-Suid-handel
in vars produkte. Dit sal ook groter
druk op die kosteketting meebring.
Aspekte wat altyd in gedagte
gehou moet word, sê Louw, is dat
daar altyd gestreef moet word om
die bedryf of boerdery doeltreffender
te maak deur nuwe tegnologie
te gebruik, maar nie die basiese
regte dinge te verwaarloos nie.
Daar is geen wondermiddel wat
swak bestuur regmaak nie.
Landbouweekblad, 1 Februarie 2008