AFGRI
BEAN
02 Des
-
9365
0,00
CORN
02 Des
-
4550
0,00
SOYA
02 Des
-
10600
0,00
SUNS
02 Des
-
11030
0,00
WEAT
02 Des
-
6745
0,00
WMAZ
02 Des
-
5203
0,00
YMAZ
02 Des
-
4966
0,00
AMT
Ave Wool - Non RWS
18 Nov
-
159,48
-1,95
Ave Wool - RWS
18 Nov
-
164,49
-0,59
Beeste A2/3
18 Nov
-
60,09
0,35
Beeste AB2/3
18 Nov
-
56,25
0,33
Beeste B2/3
18 Nov
-
52,95
1,01
Beeste C2/3
18 Nov
-
48,85
-0,26
Bevrore Hoender
18 Nov
-
32,06
-0,24
Bokkies (onder 30 kg)
18 Nov
-
63
3,43
Bokooie
18 Nov
-
39
-3,28
Groot (meer as 40 kg)
18 Nov
-
44,26
0,39
Hoender (IQF)
18 Nov
-
31,5
0,00
Medium (30-40kg)
18 Nov
-
54,61
-5,70
Pork Average
18 Nov
-
36,05
-0,10
Poultry Average
18 Nov
-
32,36
-0,15
Skaap A2/3
18 Nov
-
90,45
-1,54
Skaap AB2/3
18 Nov
-
75,52
-1,96
Skaap B2/3
18 Nov
-
74,2
-0,26
Skaap C2/3
18 Nov
-
70,7
0,53
Speenkalf
18 Nov
-
37,1
0,21
Spekvarke
18 Nov
-
35,44
-0,81
Stoorlammers
18 Nov
-
39,82
-0,87
Varkwors
18 Nov
-
27,86
-0,60
Vars Hoender
18 Nov
-
33,54
-0,19
Vleisvarke
18 Nov
-
35,95
-0,07

Bemark SA se sitrus beter

Die toekoms lê in die identifisering en benutting van veranderinge in verbruikersvoorkeure en nie in die hoop dat die verbruik sal toeneem nie.

Die verbruik van vars sitrusvrugte is wêreldwyd redelik stagnant. Die toekomstige geleenthede lê dus in die identifisering en benutting van veranderinge in verbruikersvoorkeure en nie in die hoop dat die verbruik sal toeneem nie.

Die varsproduktebedryf het in die laaste paar dekades teen 'n geweldige tempo verander weens gevorderde tegnologie wat snelle globalisering aanblaas. Nuwe kultivars, beter produksiepraktyke, moderne verspreidingsmetodes en internasionale handelsooreenkomste is enkele van die stukragte agter hierdie veranderings.

Brasilië, Amerika, China, Spanje, Mexiko, Italië, Turkye, Egipte, Argentinië, Suid-Afrika, Japan en Marokko is die grootste rolspelers in die bedryf. Lande soos Australië en Suid-Korea speel ook 'n beduidende rol. Elkeen van hierdie lande, selfs met verskillende bemarkingstrategieë, het 'n invloed in die internasionale sitrusmark. Dit raak sitrusproduksie en -bemarking in Suid-Afrika.

Brasilië is die grootste sitrusproduserende land, maar sy produksie word grootliks verwerk (meestal vir sap). China het Amerika waarskynlik verbygesteek as die naasgrootste produsent in die wêreld. Amerika, wat baie sitrus vir verwerking produseer, is volgens statistieke steeds die grootste produsent van sitrus vir vars verbruik.

Die Amerikaanse staat met die grootste produksie is Florida, gevolg deur Kalifornië, Texas en Arizona. Florida produseer heelwat pomelo's, nartjies en lemoene vir die vars mark, maar 'n groter deel van sy produksie word egter verwerk. Kalifornië produseer die meeste vrugte vir die vars mark en is Suid-Afrika se grootste mededinger - al is hy in die Noordelike Halfrond.

Kalifornië

Nawels maak die grootste deel van Kalifornië se produksie uit, gevolg deur Valencias, nartjies, suurlemoene en pomelo's. Die Nawel-oestyd begin middel Oktober, is op sy hoogtepunt van Desember tot Februarie en neem af teen die einde van Junie. Die Valencia-oestyd begin in April, verloop stadig totdat Nawels begin afneem en kan tot middel Oktober duur. Die oestyd vir nartjies begin in dieselfde tyd as dié vir Nawels en duur tot in Mei en selfs Junie.

Valencia-opbrengste het sedert die laat 1990's begin afneem weens oorproduksie en mededinging met Nawels uit die Suidelike Halfrond. Baie boorde is vervang met Nawels en nartjiekultivars. Nawels is die belangrikste sitrusvrug wat in Kalifornië gekweek word en sal hierdie posisie nog vir jare behou.

Nawels sal altyd 'n plek in die internasionale sitrusmark hê, maar nartjies wen veld danksy 'n neiging tot sitrus wat meer verbruikersvriendelik en maklik is om te skil. 'n Toename in nartjieverbruik kan die verbruik van Nawels en ander vars sitrusvrugte laat afneem. Die internasionale verbruik van vars sitrus is redelik stagnant en kan selfs veld verloor ten koste van ander vars produkte, snoephappies en geriefskos.

Nartjies word egter makliker as ander sitrusvrugte beskadig wanneer dit gepluk, verpak en verskeep word. Dit benadeel hul rakleeftyd. Die keuse van markte wat naby genoeg geleë is, is dus beperk. Daarby het talle nartjiekultivars opbrengsprobleme en 'n wisselvallige drag.

Die volopste nartjie in die wêreld, Clementine, se oestyd in Kalifornië begin in November en duur tot Maart. Dié kultivar kan egter pitte hê as kruisbestuiwing in die blomtydperk plaasgevind het, terwyl verbruikers vrugte sonder pitte soek. Dit beperk aanplantings van Clementines en die meeste ander nartjiekultivars in Kalifornië. As hulle nie op geïsoleerde plekke geplant word nie of as bye nie in die blomtyd uitgeskakel word nie, het hulle pitte. Dit beteken 'n minderwaardige produk.

Hoewel daar groot aanplantings van nartjies in geïsoleerde gebiede is, beperk ongunstige klimaatstoestande en watertekorte verdere uitbreidings. Moontlike oplossings is om bye in die blomtyd weg te hou en om nuwe, pitlose kultivars te ontwikkel en bestaande kultivars geneties te modifiseer om pitloos te wees.

'n Aantal nuwe nartjiekruisings, wat geteel is om min of geen pitte te hê, is onlangs in Kalifornië bekend gestel. Die bedryf was tot dusver traag om dié kultivars op groot skaal te plant omdat hulle nog nie 'n lang produksiegeskiedenis het nie.

'n Pitlose kultivar, Tango, word waarskynlik in Junie volgende jaar bekend gestel.

'n Mandaryn, W. Murcott (deesdae Afourer), word al jare lank kommersieel geplant. Dié vrug is goed gevestig in die sitrusmark, maar pitte is 'n probleem as hy nie in isolasie verbou word nie. In Kalifornië is sy oestydperk van Februarie tot einde Mei.

Deur Afourer se bloeisels te bestraal, is Tango ontwikkel. Dié kultivar wek groot belangstelling in Kalifornië, want kwekers sal nou 'n mandaryn met 'n bewese vermoë kan aanplant waar hulle wil omdat isolasie nie meer nodig is nie. Die bedryf is nou besig om die bekendstellingsproses in Kalifornië vas te stel. Tango sal in die toekoms ook in ander lande en Amerikaanse state beskikbaar gestel word, maar Kaliforniese produsente sal 'n voorsprong van 'n paar jaar kry. Sulke beskikbaarstellings sal ook 'n ooreenkoms insluit dat daardie produsente vir 'n bepaalde tyd nie Tango na bestaande Kaliforniese markte mag uitvoer nie.

Daar is ook 'n hernieude belangstelling in Satsuma-mandaryne in Kalifornië. Dit word van Oktober tot Desember geoes en is bykans altyd pitloos. Die bome groei egter stadig en bestendige produksie is moeilik. Tog hou hulle goeie moontlikhede in vir produsente in die begin van die seisoen - voor die belangrike mandarynkultivars oorneem.

Dit lyk of sommige produsente in Kalifornië nou begin diversifiseer. Suurlemoene en pomelo's lok ook belangstelling, te midde van die baie aandag wat nartjies geniet.

Florida

Hoewel die meeste van die produksie vir sap gaan, is Florida bekend as die belangrikste produksiegebied van pomelo's vir die vars mark. Dié staat het ook 'n indrukwekkende nartjieproduksie, maar daar is probleme met sitrussiektes. Die aantal hektaar onder sitrusproduksie het tussen 1998 en verlede jaar met 13,6 % gedaal.

Valencia-aanplantings het in dié tyd met 2,3% gegroei tot 120 799 hektaar. Nawels het 34,3 % minder hektaar beslaan, terwyl pomelo's die grootste daling ondervind het, naamlik 36 %. Die onlangse orkane het nie net bestaande boorde verwoes nie, maar ook die verspreiding van sitruskanker aangehelp. Dit het daartoe gelei dat miljoene bome vernietig is in 'n poging om dié siekte se verspreiding te keer.

Vergroening, 'n verwoestende sitrussiekte, is ook vroeër vanjaar in twee afsonderlike boorde geïdentifiseer. Teen middel Oktober - enkele maande ná hierdie ontdekkings - is daar reeds 161 bome in 140 verskillende boorde positief getoets. Daar is ook drie nuwe gevalle van sitruskanker ontdek. Elke nuwe ontdekking lei tot die vernietiging van 100 hektaar tot 120 hektaar sitrusboorde in 'n poging om verdere verspreiding teen te werk.

Die gevolglike afname in die hoeveelheid produserende boorde, veral pomelo's, hou geleenthede in wat boere in Suid-Afrika ernstig moet oorweeg.

China

Die hoeveelheid hektaar onder sitrus in China het in die laaste 50 jaar - veral ná die 1980's - twintigvoudig toegeneem. Nartjies, veral Satsumas, het in die verlede sowat 75 % van die totale produksie uitgemaak. Nou is dit sowat 55 %, gevolg deur Nawels (30 %) en pomelo's (10 %). Sowat 95 % van die produksie - sowat 11 miljoen ton per jaar - word vars verbruik.

China voer net 4 % van sy sitrus uit, en 90 % daarvan is mandaryne wat na Kanada en Rusland gaan. China is vasberade om sy uitvoer sterk uit te brei na ander markte, soos Amerika, die Europese Unie en Japan.

China se oestydperk is baie kort - van Oktober tot Februarie. Plaaslik gekweekte vars vrugte is dus net van Oktober tot Mei binne dié land beskikbaar, wat 'n tekort in ses maande van die jaar beteken. Pogings word nou aangewend om die oesvenster te verleng.

Private entrepreneurskap word deur regeringsriglyne aan bande gelê. Dit strem pogings om vinnig uit te brei. Só wil die regering die Newhall-Nawel aan produsente opdring. Dit is 'n redelik vroeë Nawel wat in Kalifornië ontwikkel en ook in Spanje gewild is. Dit is moeilik onderskeibaar van Navelinas.

China kan dus vriend óf vyand wees - vriend ten opsigte van uitvoergeleenthede weens sy groot bevolking en beperkte produksietydperk en vyand weens sy groot produksie en aanslag op internasionale markte.

Waar staan Suid-Afrika?

Suid-Afrika se sitrusbedryf word internasionaal gerespekteer. Meer vaardighede en ervaring is egter nodig vir internasionale bemarking en verkope. Met deeglike beplanning en ervaring word byvoorbeeld 'n groot deel van Kalifornië se vrugte verkoop terwyl dit nog aan die boom is. Internasionale sitruskopers word in die oestyd daagliks in Kaliforniese boorde gesien wanneer hulle spesifieke boorde vir hul bestellings besoek.

Verskillende besproeiingsprogramme, die toediening van misstof en gibberelliensuur, sorgvuldige monitering van oesgrootte en -gehalte, aktiewe bemarking en deurlopende kommunikasie tussen produsente, bemarkers en kopers is van die middele wat produsente en bemarkers aanwend om die vrugte te lewer wat kopers wil hê. Bemarkers moet alles in hul vermoë doen om gereeld sulke inligting in te win, en daar moet 'n doeltreffende metode wees om dié inligting aan produsente deur te gee.

Marknavorsing is tydrowend, maar nie ingewikkeld nie. Wat moeiliker is, is om inligting te ontleed en daarvolgens besluite te neem. Die meeste inligting is op die internet beskikbaar. Belanghebbendes móét op die hoogte bly van internasionale nuus.

Politieke verhoudings en handelsooreenkomste tussen internasionale liggame hou deurslaggewende gevolge vir toekomsbeplanning in. Met die Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (Nafta) wat in 1994 tussen Kanada, Amerika en Mexiko gesluit is, is die grootste vryehandelsgebied ter wêreld tot stand gebring.

Dit is belangrik om te weet watter uitwerking sulke ooreenkomste inhou deur te kyk na wat handelsvennote in hierdie ooreenkomste mekaar kan bied. Nafta het byvoorbeeld die weg gebaan om tariewe en kwotas tussen hierdie lande te verlaag, wat toegelaat het dat meer sitrusvrugte uit Mexiko Amerika binnegaan, terwyl meer Amerikaanse avokado's na Mexiko gaan.

Die weer speel 'n belangrike rol in bemarkingsbesluite. Nadat orkane Florida verlede jaar getref het, het Kalifornië se pomeloprodusente besef dat hulle 'n goeie jaar sou hê. Van hulle het dadelik begin om pomelo's teen 'n effens hoër prys in Florida se markte te verkoop, terwyl ander gewag het vir die voorsieningstekort om pryse tot rekordvlakke op te jaag.

Kalifornië het egter 'n koue eerste week in Desember beleef waartydens produsente groot hoeveelhede pomelo's aan die boom verloor het. Dit, alles in een jaar, het pomeloprodusente in ander lande die ongewone geleentheid gebied om goeie winste op hul vrugte te maak en permanente toegang te verkry tot markte wat voorheen deur pomelo's uit Florida en Kalifornië beset is.

Verhoudings met internasionale liggame is ook baie nuttig. Sake- sowel as vriendskapsverhoudings kan wedersyds voordelig wees. Daar is geleenthede vir 'n sitrusbemarker om 'n mededinger in 'n ander gebied se sitrus te gebruik om sy voorsieningsvenster te vergroot. 'n Voorbeeld is as 'n Australiese bemarker Suid-Afrikaanse Nawels voor sy eie Nawels kan aanbied om te keer dat verbruikers oorskakel na appels uit Amerika voordat sy Nawels daardie mark bereik.

Wanneer die produsent 'n boordontwikkeling beoog, moet hy begin by die punt waar sy sitrus na die verbruiker gaan en van daar af terugwerk tot by die geskikste kultivar en die geskikste ligging op die plaas. Hy kan op die grondslag van prys en gehalte meeding of hy kan moontlikhede oorweeg om markte voor of ná 'n mededinger se spitsvoorsieningstyd te voorsien. Met deeglike beplanning kan rakruimte gewen word waarvoor 'n mededinger gewerk het.

Suid-Afrikaanse sitrusprodusente het uitdagings met betrekking tot grondbesit, stygende produksiekoste en die sterk rand (of swak buitelandse geldeenhede). Omdat sitrus 'n langtermynbedryf is waarin vinnige veranderinge moeilik is en produsente nie so vinnig voordeel kan trek uit veranderinge soos in ander bedrywe nie, is internasionale marknavorsing van deurslaggewende belang.

Dit maak nie saak hoe goed die bome groei en hoe gou hulle begin produseer nie - as die oes nie teen 'n volgehoue winsgewende marge in geld omgesit kan word nie, is 'n produsent tot mislukking gedoem. Net diegene wat by die internasionale markkragte kan aanpas, sal oorleef.

Mnr. JJ Griffin is 'n Suid-Afrikaner wat in Amerika met sitrus boer.

18 November 2005

Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.
Teken in
Smalls

Besoek ons nuwe webwerf vir geklassifiseerde advertensies en plaas jou advertensie in LBW én aanlyn. Vind ook vinnig en maklik die produk waarna jy soek!

Sien meer
Rand - Dollar
17.56
-0.0%
Rand - Pond
21.59
-0.4%
Rand - Euro
18.50
-0.3%
Rand - Aus dollar
11.93
-0.3%
Rand - Jen
0.13
-0.2%
Goud
1,797.91
0.0%
Silwer
23.15
0.0%
Palladium
1,900.00
0.0%
Platinum
1,020.00
0.0%
Brent-ruolie
85.57
-1.5%
Top-40
68,238
-0.9%
Alle aandele
74,323
-0.9%
Hulpbronne 10
74,020
-2.7%
Industriële 25
91,592
-0.6%
Finansiële 15
15,398
+0.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Besoek ons winkel!

Besoek die LBW-winkel en koop verskillende produkte soos boeke, tydskrifte, klere en meer.

Besoek LBW-winkel
Opsitkers
lewensmaat
Eks eerlik opreg weet wat ek wil he in die lewe hardwerkend en sal n goeie vriend wees. Eks rustig netjies en sal my vriendin op die hande dra. Hou niks van argumente nie wil...
Kom ons begin ons eie storie met Vriendskap
Nr 1 sal altyd my Here wees want Hy is my provider, Aleph en Sovereign God. Al wat ek soek is n maaitjie saam wie ek die lewe kan geniet, lag, gesels, laf wees en dan kyk na...
Vind jou perfekte maat nou!
Ek is 'n:
Op soek na:
Ouderdomsgroep: tot