
Hoewel die wyndruifoestyd later as gewoonlik begin het en die oes kleiner as verlede jaar s’n is, het al tien wynproduserende gebiede reeds ’n aansienlike hoeveelheid druiwe gelewer, sê mnr. Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens.
Vinpro het onlangs die vierde oesskatting met die samewerking van die Suid-Afrikaanse Wyninligting en -stelsel (Sawis) bekend gemaak.
Schutte sê die gehalte van vanjaar se druiwe lyk op hierdie stadium goed en dat besondere wyne van vanjaar se oes verwag kan word.
Mnr. Christo Spies, uitvoerende hoof van swart ekonomiese bemagtiging en wynsagteware (WineMS), sê 65% van die oes is in die kelders – ’n week later as gewoonlik. Hy sê die kusgebiede se oes is naby aan afgehandel, terwyl die meeste van die binnelandse streke verby die halfpadkerf is.
Vanjaar se oes is gekenmerk deur kouer weersomstandighede van die winter tot middel Desember verlede jaar wat daartoe gelei het dat knopvorming, bloeityd, verkleuring en rypwording later as normaalweg plaasgevind het. Warm periodes in Desember en Januarie het rypwording aangemoedig, maar die oesprogram vir die meeste kultivars is met sewe tot tien dae vertraag.
Hoewel daar wisselvalligheid in die oesskattings vir elke streek is, word verwag dat die totale oes weens geografiese diversiteit kleiner sal wees. “Die kleiner oes kan grootliks toegeskryf word aan reënbuie in die Noord-Kaap en Klein-Karoo wat gelei het tot verliese weens swamsiektes en verrotting, asook sonskade weens hittegolwe in die Swartland-, Paarl- en Robertson-streek. Wingerde is ook in sekere gebiede om finansiële oorwegings uitgehaal,” sê Schutte.
Hy voeg by dat gunstige groeitoestande, doeltreffende swamsiektebekamping en voldoende water vir besproeiing bygedra het tot ’n groter oes in Stellenbosch en die Kaapse Suidkus.
Die finale oesskatting sal in Mei vanjaar uitgereik word.