
Besonderse en buitengewone wyne uit Nederburg se private veilingversameling sal die tweede dag van vanjaar se gesogte Nederburg-wynveiling inlui.
Die Nederberg Auction Private Collection sal vir die eerste keer op die veiling aangebied word.
Hierdie versameling bevat wyne wat net in baie klein hoeveelhede beskikbaar is, en gewoonlik aan produsente behoort wat hul heel laaste bottels bewaar het vir ’n besondere geleentheid soos hierdie.
14 items te koop
Me. Dalene Steyn, Nederburg-veilingbestuurder, sê daar is 14 items in hierdie besondere versameling.
“Elkeen van die wyne het ’n oorspronklike storie wat die seldsaamheid, uniekheid en versamelbaarheid daarvan verhoog,” sê sy.
’n Goeie voorbeeld is die 1974 Cabernet Sauvignon van Rustenberg. Dit was die laaste oesjaar wat deur die plaas se vorige eienaar/wynmaker mnr. Reg Merriman Nicholson gemaak is. Die huidige eienaar, mnr. Simon Barlow, meen Nicholson se swanesang was ook sy beste oesjaar.
“Die meeste van die wyn is by my suster se troue gedrink, en ons het nie eens ’n bottel in ons wynbiblioteek op Rustenberg nie. Dit is dus inderdaad baie seldsaam,“ meen Barlow, wat dit oorweeg om self op die wyn te bie.
Lees ook: Amper tyd vir Veritas-toekennings
Graham Beck MCC 1994
Nóg ’n wyn-met-’n-storie wat onder die hamer gaan kom, is die Graham Beck MCC 1994 wat mnr. Pieter Ferreira gemaak het om die inhuldiging van oudpres. Nelson Mandela te vier.
Hierdie vonkelwyn is deesdae moeilik bekombaar, maar een kis met vier 1,5 liter-bottels, sal opgeveil word. Die reserweprys is R1 000.
Ses bottels van een die oudste gebottelde Suid-Afrikaanse wyne, KWV se Rooi Muskadel Jerepigo uit 1930, sal ook aangebied word. Die reserweprys is R1 200.
Nóg ’n oupa uit die Suid-Afrikaanse wynbedryf, ’n Chateau Libertas uit 1961, sal opgeveil word. Die reserweprys is R3 000 vir die enkele kis met drie bottels.
Die veiling vind vanjaar op 16 en 17 September plaas. ’n Volledige lys van wyne wat op die veiling aangebied word, is by www.nederburgauction.co.za beskikbaar.
Lees ook: Nederburg blink uit by Veritas
14 Julie 2011