
Inskrywings vir die 177ste Suid-Afrikaanse Jongwyn-toekennings is oop en belangstellendes kan nou inskryf, sê die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV).
Luidens ‘n verklaring is die sluitingsdatum vir inskrywings 24 Junie 2010, en kan inskrywingsvorms by die onderskeie streekswynskouverenigings ingegee word.
Sowat 2 000 wyne word jaarliks vir dié kompetisie ingeskryf. Die beste jongwyn word vereer met die Generaal Smuts-trofee, en die wynmaker met die grootste puntetotaal vir vyf verskillende wyne ontvang die Pietman Hugo-trofee.
Verandering aan kompetisie
Een van die veranderings wat vanjaar aan die kompetisie gemaak is, is dat deelnemers meer as een inskrywing per klas van dieselfde kultivar kan inskryf. Deelnemers kan in 17 kategorieë deelneem, en die wenners word op 19 Augustus in Stellenbosch bekend gemaak.
Mnr. Willie Burger, die keldermeester van Badsberg wynkelder, sê hierdie kompetisie is ‘n goeie geleentheid vir wynmakers en kelders om hulle produkte met ander kelders te vergelyk. Badsberg het verlede jaar vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie, beide trofeës verower.
“Die waarde van die kompetisie lê veral in die uitruil van inligting en wanneer ‘n kelder dan ‘n trofee wen, is dit ‘n bonus wat vir die wynmaker bevestig dat hy in die regte rigting beweeg met die kultivar en styl”, verduidelik Burger.
Inskrywingsvorms is by www.youngwineshow.co.za of by die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging se kantoor beskikbaar.
1 Junie 2010