Die wenolie is volgens die beoordelaars "uiters elegant".
Die trofee vir die beste tafelolywe het na Karoo Olives se swart Mission olywe van die plaas Renosterkop buite Beaufort-Wes gegaan. Me. Reni Hildenbrand is as die Absa presteerder van die jaar aangewys.
"Weens die ongewone weerstoestande net voor en gedurende die oes, het die 2008 olyfolies veel sagter eienskappe as vorige jare, sonder die intense geure wat tydens droër seisoene dominant is. Die nat toestande het olyfprodusente egter uitgedaag om te verseker dat hul olies nie organoleptiese tekens van hierdie uitermatige humiditeit dra nie," sê me. Linda Costa, die sameroepster van die derde Suid-Afrikaanse Olyftoekennings.
Rio Largo het die enigste goue medalje vir 'n delikate ekstra suiwer olyfolie verower en Burgundy Bourgogne, Foxenburg Landgoed en Olyberg het goue medaljes vir hul medium vrugtige olies ontvang. Vesuvio en Olyven Houdt het goue medaljes vir hul intens vrugtige olies ingepalm.
10 Oktober 2008