
Agt beoordelaars beraadslaag die week vir drie dae lank om te besluit watter olyfolie met die SA Olive-toekennings bekroon word.
Dié beoordelaars, onder leiding van die internasionaal erkende paneelleier, prof. Luciano Scarselli, moet besluit watter olyfolie word met brons-, silwer-, goue of selfs dubbelgoue toekennings bekroon.
68 olyfolies geproe
In die Ingenuity-lokaal by die Nederburg-veilingskompleks het die beoordelaars 68 olyfolies geproe. Dit is die hoogste aantal inskrywings wat tot nog toe vir die SA Olive-toekennings, die Veritas van die olyfoliebedryf, ontvang is. Die olies is deur 44 boere geproduseer – ook die hoogste aantal produsente wat tot dusver ingeskryf het.
Scarselli sê heelwat van die olies wat hulle tot dusver geproe het, is van ’n hoogstaande gehalte. Slegs ’n baie klein aantal olies het tekortkomings.
“Sommige van die olies is werklik kompleks en goue- en dubbelgoue toekennings werd. Ek het gevind die delikate en medium-olies is baie goed en geskik vir Mediterreense resepte. Die intense olies is minder groen en intens op die neus as waaraan ons in Italië gewoond is, maar ek dink dit het met die klimaat te doen. Die intense olyfolie vergelyk wel baie goed met die Italiaanse olie op die palet.”
Scarselli is die sakekamer van Pisa in Toskane, Italië, se paneelleier. Hy is ook president van ASOE, die Italiaanse proeërsvereniging vir olyfolie. Hy het Suid-Afrika die afgelope twaalf jaar sowat sewe keer besoek.
“As ek die olies wat ek vandag proe, vergelyk met dié wat ek twaalf jaar gelede geproe het, kan ek beslis sê daar het ’n gunstige evolusie in die Suid-Afrikaanse olyfbedryf plaasgevind.
Hoë standaarde
"Die standaard is baie hoog, en dit is te danke aan verbeterde verwerkingsmetodes en die kennis, toewyding en tegniek van die verwerkers. SA Olive se inisiatief om mense op te voed en olyfolie te bevorder, het ook bygedra,” meen Scarselli.
Mnr. Leonard Arangies, bestuurder van SA Olive, sê olyfolie word vir sy olfaktoriese en smaakeienskappe beoordeel.
Scarselli sal volgende week ’n proeërskursus by Morgenster aanbied. Dit vind plaas van 22 tot 24 Augustus (beginners, koste is R5 250), 25 Augustus (verfrissingskursus, koste is R1 750) en 26 Augustus (eksaminering, koste is R1 750). Navrae kan aan gerrie@morgenster.co.za gerig word.
Kyk hier na 'n video-samestelling deur Lucille Botha van die beoordeling.
16 Augustus 2011